Ná altesaam 26 opwindende jare in die onderwys, skop Cecile de Villiers, Langerugskool in Worcester se hoof, uiteindelik haar skoene uit en maak haarself reg vir aftrede.
De Villiers noem Worcester haar tuiste sedert 1987 nadat haar man ’n pediatriepraktyk in die dorp oopgemaak het, en sy eers vir ’n klompie jare vir hom gewerk het.
In 1997 het sy besluit om die onderwys te betree, en in die rigting te werk waarvoor sy studeer het.
“Ek het by Pionierskool in ’n pos afgelos as ’n berader, en is toe in 2002 permanent aangestel as ’n Afrikaanse onderwyser,” volgens haar.
Van 2002 tot 2014 het dié passievolle skoolhoof die leer geklim tot adjunkhoof van Pionierskool.
Nadat die skool die nuus ontvang het van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) dat die skool nie meer leerders met leerhindernisse kan huisves nie, is sy in Julie 2015 as die hoof van die nuut gevestigde Langerugskool aangestel, ’n skool vir leerders met leerhindernisse soos outisme of disleksie.
“Pionierskool het destyds leerders met allerhande leerhindernisse en gestremdhede gehuisves, maar toe die skool die nuus kry van die WKOD dat die Pionierskool net aangewend gaan word vir meervoudiggestremde leerders is Langerugskool gebou,” volgens De Villiers.
In Januarie 2015 het sy, ’n handjie vol leerders en personeellede die skool vir die eerste keer betree en van daar af gewerskaf om die skool op te bou tot wat dit vandag is.
“Ons het nie eers ’n naam gehad met die opening van die skool nie, maar het toe later besluit op Langerugskool omdat die leerders met leerhindernisse op die Langerugkampus van die Pionierskool se gronde klasgeloop het, saam met die swaksiende leerders,” volgens De Villiers.
Vandag spog die skool met 172 leerders nadat dit begin het met 125, én ’n skoollied geskryf deur Johan Groenwald, ’n bekende liedjieskrywer in Worcester.
De Villiers het verduidelik dat Langerugskool haar “lewe” was, en dat sy die leerders en personeel van dié skool baie sal mis.
“Dit was ’n voorreg om te werk by Langerugskool, en om die leerders te ondersteun om hul potensiaal te bereik,” het sy gesê.
Volgens haar het sy dit baie geniet om “planne te beraam en te kyk wat die skool nóg kan probeer om na leerders se behoeftes te voorsien”.
“Daar was nie een dag wat ooit dieselfde was nie, en al het ek planne vit ’n spesifieke dag gehad, het dit nooit so uitgewerk nie, het die skoolhoof laggend gesê, en verduidelik dat sy daardie opwinding verseker sal mis.
De Villiers het op Caledon grootgeword en gematrikuleer waarna sy toe haar studies in onderwys voortgesit het by Universiteit Stellenbosch en toe later by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa).
Sy groet die skool môre (30 Junie) waarna sy haar en haar gesin se gastehuise tussen Stanford en Caledon sal bestuur.


