Jean-Pierre Burger (20), ’n oud- Hoërskool Montagu-leerder en ’n voormalige o.21-Boland-vaskopstut, is in die Ixias-Varsitybeker se senior groep opgeneem.Foto’s: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

Die twee jong en talentvolle rugbyspelers van die Breë-Langebergstreek wat vroeër geoormerk is vir moontlike rugbybeurse in die Vrystaat, het verlede Maandag (5 Februarie) amptelik by die Ixias Varsity Young Guns-groep aangesluit.

Worcester Standard & Gazette het in Januarie oor die geleentheid wat vir hierdie twee begaafde jong spelers gewink het, berig.

Dié twee – Luke Davids en Sean-Douglas Cedras (albei 18) – en nog ’n jongman, Jean-Pierre Burger (20), het verlede jaar groot indruk op Randall Modiba, die hoofafrigter van die Sentraal Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein, gemaak.

Luke Davids (18), ’n oud-leerder van die Hoër­skool Robertson, het verlede Maandag (5 Februarie) by die Young Guns aangesluit.Foto:

Davids en Cedras is toe later voorlopig by die Ixias Varsity Young Guns-groep ingesluit, terwyl Burger, ’n voormalige o.21-Bolandvaskopstut, toe reeds ’n ruk lank deel van die Varsitybeker se senior groep was.

Worcester Standard & Gazette het Davids en Cedras, wat verlede jaar aan die Hoërskool Robertson gematrikuleer het, oor hul amptelike aansluiting by die Ixias Varsity Young Guns-groep gepols.

“Ek is baie dankbaar oor die nuwe geleentheid. Die manne het my met ope arms ontvang. Ek is opgewonde oor die nuwe broederskappe wat gesmee word en ek voel ons kan vanjaar ’n baie goeie seisoen hê. Ek is ook dankbaar vir die lesse wat ek besig is om te leer,” was Davids se reaksie.

Hoewel hy ook bly en dankbaar is vir die geleentheid, meen Cedras die harde werk begin egter nou eers. In dieselfde asem noem hy dat hulle nie van plan is om terug te deins vir die nuwe uitdagings nie.

“Ja, ’n mens kan niks anders as opgewonde en dankbaar wees vir wat die Here op ons pad gesit het nie. Ons het Maandag by die Young Guns aangesluit. Die harde werk begin nou eers, maar ons is nie bang vir die uitdagings nie. Ons is trots om te kan sê die SUT is ons toekoms,” het Cedras, die 2023-kaptein van die Hoërskool Robertson se A-span, gesê.

Sean-Douglas Cedras (18), ’n oud-leerder van die Hoërskool Robertson en voormalige kaptein van die Hoërskool Robertson se A-span, het verlede Maandag (5 Februarie) by die Ixias-Varsitybeker- Young Guns-groep aangesluit. Foto:

Volgens Modiba kwyt Burger hom heel goed van sy taak.

“JP is ’n oud-leerder van die Hoërskool Montagu. Hy is volstoom aan die gang met voorbereiding in die Ixias-SUT-Varsitybeker se senior groep. Hy het al opwarmingswedstryde teen die Pukke, die Cheetahs en die Griekwas gespeel,” sê Modiba.

Modiba sê al drie spelers is baie tevrede met die rugbybeurse wat hulle ontvang het. Voorts meen hy die drie jong manne het die potensiaal om rugby op die hoogste vlak te speel. Met harde werk en algehele toewyding is dit gewis binne hul bereik, glo die hoofbreier van die SUT.

“Ixias-SUT pronk met die feit dat hy al talle Springbokke opgelewer het – Jasper Wiese (Springbok-agsteman) en Trevor Nyakane (Springbok-stut), albei wêreldbekerwenners, is die nuutste produkte van Ixias-SUT,” motiveer Modiba sy stelling.

Hy gaan voort: “Die sewes-superster Seabelo Senatla is nog ’n Ixias-produk wat sy land al op die hoogste vlak verteenwoordig het.

“Daarby het heelwat opkomende talentvolles hulle onlangs by verskeie top-unies vir Curriebeker-diens aangesluit.

“Spelers soos Curwin Jasper van Barrydale speel vir die Cheetahs en Xavier Swartbooi en Eddie Davids draf vir Griekwas uit, om maar net ’n paar te noem,” sluit Modiba af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article