Twee van die Langeberg se mooie meisies is lid van die top-10 van Huisgenoot se jeugkompetisie.

Beide Amy-Leigh Shirly en Mareli Jordaan is tans gr. 11-leerders en het net vir die pret en ondervinding vir die kompetisie ingeskryf.

“My ma se vriendin het die kompetisie onder ons aandag gebring. En hierdie jaar het ek juis besluit om myself meer uit te daag en dinge buite my gemaksone te doen. Toe besluit ek maar om in te skryf,” verduidelik Amy-Leigh, ’n leerder aan die Hoërskool Montagu.

Sy was egter vreeslik senuweeagtig om hierdie groot sprong te neem.

“Ek was so nervous oor die video wat ek op TikTok moes laai, waarin ek meer van myself vertel. Ek het soveel keer opgemors en foute gemaak, dan het ek die video net weer oor opgeneem,” verduidelik sy baie charismaties.

Haar deursettingsvermoë het uiteindelik vrugte afgewerp en haar plek in die top-10 verseker.

“Ek het skoon gebewe van opgewondenheid toe ek uitvind dat ek in die top-10 is. Ek het dit glad nie verwag nie.

“Nou moet die publiek asseblief vir my stem, want die finalis met die meeste stemme word dan as die wenner gekroon.”

Ná skool wil Amy-Leigh graag as ’n lugwaardin werk terwyl sy aanlyn studeer om ’n argitek te wees.

Mareli, ’n leerder aan die Hoërskool Bonnievale, het ook haar skaamheid oorwin om haar inskrywingsvideo op TikTok te laai.

“Ons huishulp het een middag ná skool vir my die kompetisie in die tydskrif gewys. Ek het toe besluit om in te skryf en my ma gevra wat sy dink ek moet doen. Ek maak al jare TikTok-video’s en was gemaklik daarmee.”

Sy was reeds dankbaar toe sy in die top-30 kom.

“Toe ek in die top-30 gekom het, was ek al verskriklik bly en geskok. Maar toe ek in die top-10 gekom het, was ek eers in my noppies – dis vrek cool.”

Intussen berei sy al van kleintyd af voor om eendag ’n advokaat te wees. . Besoek huisgenoot.com om vir hierdie twee te stem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article