Covid-19 is in Desember 2020 by ’n 30-jarige inwoner van Robertson gediagnoseer. Vandag is sy lewe steeds onherroeplik verander deur ’n virus wat talle nog afmaak “as net nog ’n griep”.
Brandon Jackson is ’n hardwerkende man en pa wat enigiets vir sy gesin sal doen – maar ’n man wat elke dag so siek is dat hy sukkel om net die basiese te kan doen.
“Ek het Covid-19 opgedoen en gedink dit is iets wat sal oorwaai. My immuunstelsel was altyd sterk en ek kon enige siekte lag-lag oorkom – nie dié een nie.”
Hy verduidelik hoe hy sy smaaksin verloor het. Daarna het hy gesukkel met sy asemhaling en toe lukraak pyn oor sy hele lyf gekry. Hy vertel hy hoes, sy maag spoel ongereeld, sy keel is seer en sy mond voel droog.
Wat vir ander die gewone simptome van Covid-19 is en ná enkele weke gewoonlik opklaar, is dit bykans twee jaar later steeds sy werklikheid.
“Ek was al by ’n magdom dokters. Vir almal van hulle is dit vreemd. Ek gebruik soveel medikasie – selfs anti-depressante. Ek het angs ontwikkel. Ek verloor pal gewig. My vel slaan uit. Bykans geen oomblik gaan verby sonder dat ek die een of ander soort pyn of ongemak ervaar nie,” verduidelik hy emosioneel.
“Lang-covid” is ’n term wat wêreldwyd opslae maak. Dit is die simptome waarmee sommige by wie Covid-19 gediagnoseer is vandag nog sit. Behandeling word wêreldwyd gesoek en medici probeer hul bes om ’n kuur hiervoor te kry.
“Mense dink nie dit is ernstig nie. Ek weet dit is. Covid-19 het ons almal se lewe verander. Dit het myne drasties verander. Dit het my verhoudings met mense beïnvloed. Dit het my verhouding met my vrou en kinders verander. Dit het my werk negatief beïnvloed,” vertel die 30-jarige vurkhyserbestuurder van Robertson.
Hy sê die finansiële slag is ewe erg.
“Medikasie, dokters, spesiale kos – dit ruk my sak. Waar is die hulp vir ons? Wanneer gaan ek ooit weer normaal wees? Dit is ’n vraag wat ek elke dag vra. Dit is moeilik en dit gaan soms nog erger.”
Hy sê hy staan sterk in sy geloof en bid vir ’n oplossing van mediese kenners.
Hy sê ook mense moenie Covid-19 ligtelik opneem nie.
“Dit is nie iets om mee te speel nie. Dit is ook nie ’n kwessie van glo jy daarin of nie, want die bewyse is groot. Kyk na my. Kyk na my lewe. Wees dankbaar as jy nie deur covid geraak is nie, maar weet dat jou lewe daardeur verander kan word.
“Ek wil mense inlig en vertel dat jou lewe oornag kan verander,” voeg hy by.
Jackson verduidelik dat hy maar steeds elke dag werk toe gaan, ’n glimlag opplak en probeer aangaan.
“Dit is nie maklik nie, maar die Here dra my deur.”





