Onlangs is berig dat munisipaliteite weens beurtkrag ’n jaarverlies van R21 miljard in die gesig staar.

Die massiewe verlies word onder meer toegeskryf aan die feit dat munisipaliteite nie tydens beurtkrag krag kan verkoop nie.

Die Langeberg-munisipaliteit het aan Standard & Gazette gesê hy het self ook ’n massiewe verlies gely.

“Die Langeberg-munisipaliteit word geraak deur die afname in elektrisiteitsverkope as gevolg van beurtkrag. Die situasie het die geldsake van die munisipaliteit beïnvloed. Die situasie het gevolge vir die munisipaliteit se geldsake gehad. Teen einde Augustus 2023 het die munisipaliteit ’n aansienlike finansiële verlies van R28 miljoen aan elektrisiteitsinkomste onder die begrote bedrag ervaar,” het ’n woordvoerder van die munisipaliteit gesê.

Standard & Gazette het ook navraag by die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gedoen en Chad Malgas, ’n woordvoerder vir die munisipaliteit, het gesê die BVM word gewis finansieel deur dieselfde probleem geraak.

“Laer elektrisiteitsverkope het ’n direkte uitwerking op die inkomste wat deur die dienste-afdeling gegenereer word,” het Malgas gesê.

Hy sê ook die verkoop van krag is die BVM se grootste bron van inkomste.

“Die verkoop van krag is tussen 30 tot 40% van ons inkomste. Die gemiddelde energieverbruik het met ongeveer 12,72% afgeneem in vergelyking met verlede jaar.”

Thembi Nkadimeng, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het in ’n parlementêre antwoord gesê munisipale inkomste is in die 2022-’23-boekjaar nog ’n swaar slag toegedien omdat baie middel- en hoër inkomste huishoudings en kommersiële en nywerheidskliënte die munisipale kragnetwerke weens beurtkrag verlaat en hul eie krag opwek.

In Maart vanjaar het die Suid-Afrikaanse vereniging van plaaslike regering (Salga), wat alle munisipaliteite verteenwoordig, ’n assessering gedoen waaraan net 87 van die land se 257 munisipaliteite deelgeneem het.

Die Langeberg-munisipaliteit was egter nie deel van hierdie assessering nie, maar die BVM wel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article