Rowers het oor die naweek ’n sakeonderneming in De Doorns van duisende rande beroof.

“Die voorval het Saterdag (22 Oktober) plaasgevind.

Vier gewapende mans het die perseel om 23:00 betree. Die rowers het met R17 000 weggekom. Skote is afgevuur, so wanneer die verdagtes in hegtenis geneem word, sal ’n klag van poging tot moord ook teen hulle aanhangig gemaak word,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie gesê.

Niemand is nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie.

In ’n afsonderlike voorval die naweek is ’n jongman noodlottig gesteek.

“Die polisie het op ’n klag van aanranding reageer. Toe hulle by die spaza-winkel kom waar die voorval in Stofland gebeur het, het hulle die 19-jarige langs die winkel aangetref, waar hy gelê het. Hy het ’n steekwond aan die regterkant van sy bors gehad, waaruit hy verskriklik gebloei het,” verduidelik die woordvoerder.

Volgens die woordvoerder het die slagoffer nog geleef toe die polisie op die toneel aankom.

“Die ambulans is ontbied, maar toe hulle later op die toneel kom, het die man reeds gesterf en hy is dood verklaar.”

’n Ooggetuie was glo op die toneel ten tyde van die voorval. Die verdagte is dieselfde aand nog in hegtenis geneem en word van moord aangekla.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article