Die Wes-Kaapse departement van gesondheid doen ’n beroep op alle ouers en voogde om hul kinders onder 15 jaar vir ’n opvolg-inenting teen masels te neem nadat talle gevalle van masels aangemeld is.
Masels is oordraagbaar en een van die mees aansteeklike siektes ter wêreld.
Kan tot die dood lei
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ’n inentingsveldtog van stapel gestuur en aanvullende opvolg-entstofdosisse vir elke kind jonger as 15 jaar beskikbaar gestel.
Die Wes-Kaap poog om sowat 95% van kinders teen die maselsvirus te immuniseer, wat uiteindelike uitbrekings sal voorkom.
Om teen masels geïmmuniseer te wees, is twee maselsinentings nodig. Tot nou is 80% van kinders in die provinsie ingeënt.
Tekens en simptome
Die eerste tekens van masels is gewoonlik ’n hoë koors, wat 10 tot 12 dae ná blootstelling aan die virus voorkom en sowat vier tot sewe dae kan duur.
Ander simptome soos hoes, rooi en waterige oë, ’n loopneus en klein wit kolletjies op die wange kom eerste voor.
’n Uitslag in die gesig en nek kom gewoonlik ’n paar dae later voor. Dié uitslag is klein, rooi en plat kolle oor die hele liggaam en vorm nie sere nie, maar is ook nie jeukerig of pynlik nie.
Die uitslag sal die voete en hande uiteindelik oor drie dae bereik.
Gevare
Oningeënte kinders of kinders wat nie immuun is teen die virus nie, het ’n hoër risiko om masels op te doen, asook erge simptome te ervaar. Oningeënte swanger vroue is ook in gevaar. Enigiemand wat nie teen masels ingeënt is nie, of wel ingeënt is, maar nie immuniteit teen die virus opgebou het nie, loop die gevaar om deur die virus geraak te word.
Behandeling
Geen spesifieke antivirale behandeling bestaan vir die maselsvirus nie. Erge komplikasies weens masels kan vermy word deur ondersteunende behandeling, soos ’n goeie en gesonde dieet, voldoende vloeistofinname en behandeling vir dehidrasie.
Parasetamol en warm water word vir ’n hoë koors aanbeveel. Antibiotika kan deur ’n gesondheidspraktisyn verskaf word om ’n moontlike oog- of oorinfeksie en longontsteking te behandel.
Voorkoming
Roetine-inentings vir kinders verminder die kanse om masels te kry.
Die maselsentstof word reeds meer as 50 jaar gebruik. Dit is veilig, doeltreffend en goedkoop.


