Hoewel die Wes-Kaapse Onderwysdepartement die meeste van die gr. 1- en gr. 8-leerders geplaas het wat verlede jaar vir die 2023-skooljaar aansoek gedoen het, veroorsaak laat aansoeke nog uitdagings.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, sê: “Die WKOD open doelbewus sy aansoekproses so vroeg as Maart die vorige skooljaar om so veel as moontlik aansoeke teen Junie van daardie jaar te finaliseer, sodat toepaslike beplanning kan begin. Hierdie data en beplanning is van kardinale belang en is deels hoekom ons die aantal ongeplaaste leerders vir 2023 so aansienlik kon verminder.”
Sy verduidelik egter dat laat aansoeke beplanning en plasing van leerders om verskeie redes moeilik maak vir die departement.
Dit sluit in taalvoorkeur, vakkeuses en gespesialiseerde behoeftes van leerders.
“Ons sien ook dat ouers plasings wat aan hulle gebied word, weier aangesien dit nie hul eerste skoolkeuse is nie. Alhoewel ons verstaan dat ouers voorkeure het oor na watter skool hulle graag hul kind wil stuur, is die realiteit dat sommige skole meer gewild is as ander en honderde, indien nie duisende aansoeke nie, vir net 100-200 plekke ontvang,” sê Hammond.
“Hoewel ons ideaal sou wou hê dat elke leerder op die eerste skooldag geplaas word, maak die laat aansoeke van leerders dit ’n onmoontlike taak om te verrig sonder om die nodige data van die leerder te hê om vooraf toepaslik te beplan.”
Die departement het Maandag gesê 99,2% of 117 844 van die gr. 1- en gr. 8-leerders vir 2023 is by skole in die Wes-Kaap geplaas. Hulle is in die proses om die laaste 0,8% of 955 leerders te plaas.
“Dit is ’n ongelooflike prestasie in vergelyking met vorige jare, met ons amptenare en skole wat verlede jaar 50 844 meer gr. 1- en gr. 8-leerders geplaas het as op dieselfde tydstip verlede jaar,” sê Kerry Mauchline, woordvoerder vir die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier.
“Ons is in die beste moontlike posisie om die skooljaar te begin gegewe die groot vraag na ’n plasing.”

