Die Kaapse Wynlande- distriksmunisipaliteit (KWDM) het met trots aangekondig dat die ouditeur-generaal vir die 2023-’24-boekjaar sy 11de opeenvolgende ongekwalifiseerde ouditmening met geen bevindings – ook bekend as ’n “skoon oudit” – uitgereik het.
Die ouditeur-generaal se oudit behels ’n deeglike ondersoek na finansiële state, prestasieverslagdoening oor voorafbepaalde doelwitte en nakoming van wette en [munisipale] regulasies. Om ’n skoon oudit te ontvang, moet die finansiële state vry wees van wesenlike wanvoorstellings, sonder wesenlike bevindings oor prestasiedoelwitte of nie-nakoming van wetgewing.
Hierdie 11de opeenvolgende skoon oudit bevestig die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit se sterk finansiële bestuur, deeglike interne kontroles en robuuste begrotingsprosesse.
“Hierdie prestasie weerspieël ons toewyding tot deursigtigheid, aanspreeklikheid en gesonde finansiële bestuur. Ons sal voortgaan om uitnemendheid na te streef en uitstekende dienste aan ons inwoners te lewer. Soos Dwight Eisenhower gesê het: ‘The supreme quality for leadership is unquestionably integrity,’ het die uitvoerende burgemeester, Elna von Schlicht, gesê.
Die munisipale bestuurder, Henry Prins, wat reeds 14 skoon oudits by twee munisipaliteite behaal het, het gesê:
“Of die KWDM nou ’n klein onderneming help groei deur ons hulpverleningstoelaes, ’n sportveld vir ’n plattelandse skool bou, brande bestry of gesondheidsondersoeke uitvoer, maak die grootte van die projek geen verskil aan ons proses nie. Die oudituitslag bewys dat ons geld doeltreffend aanwend om in ons burgers se behoeftes, soos vervat in ons geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP), te voorsien.
“Ons streef daarna om ons missie van verbeterde dienslewering in aksie om te skakel.”
Die KWDM het ’n trotse geskiedenis van ondersteuning aan ondernemings en is ’n vertroude vennoot in die bevordering van ekonomiese groei en die aantrekking van uiteenlopende beleggingsgeleenthede. Hierdie pogings dryf vaardigheidsontwikkeling en skep werksgeleenthede binne gemeenskappe.



