ROBERTSON – Robertson Town speel tans kookwaterrugby en sy segetog in die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie duur voort nadat hy die afgelope Saterdag (11 November) ook met Hawston op die Van Zylstraat-sportveld klaargespeel het.
Dit was Town se vierde agtereenvolgende oorwinning.
Robertson, wat ook die Breë-Langebergstreekwenner is, het ’n begeesterde Hawston-span ná ’n titaniese stryd met 45-35 verslaan.
Wat Town se vertoning in vanjaar se Top-12-kompetisie so merkwaardig maak, is dat hy met dié sege reeds vir die halfeindronde kwalifiseer, al moet hy nog een groepwedstryd (teen Eagles) speel.
Robertson het die besoekers van meet af aan onder groot druk geplaas en danksy goeie aanvallende spel twee keer gaan druk. Eers het die linkervleuel, Runé Lucas, gedruk, en daarna het die agsteman, Lorenzo Baardman, ook agter die besoekers se doellyn gaan kuier.
Collin Willemse (losskakel) se visier met die doelskoppe was uit, maar hy het wel met ’n strafdoel geslaag, wat sy span ’n voorsprong van 13-0 besorg het.
Hawston, ook bekend as “Skrik-vir-niks”, het hom getrou aan sy noemnaam nie laat afskrik van die tuisspan se vroeë voorsprong nie en kort hierna teruggeslaan met ’n drie deur Francois Geduld (agtsteman), wat deur Roland Swarts (losskakel) verdoel is om die telling 13-7 te maak.
Hawston se veggees het beïndruk toe hy met mening begin aanval en die tuisspan se voorsprong met ’n onverdoelde drie deur Heinrich Robertson (plaasvervanger-losvoorspeler) so te sê uitgewis het om die telling 13-12 maak.
Town het egter minute later sy geringe voorsprong weer vergroot met ’n drie deur die buitesenter, Jennewil April. Gurshwin Africa (skrumskakel) se doelskop was tussen die pale deur, met die telling nou 20-12.
Hawston het met groot passie gespeel en teen rustyd die voortou met 22-20 geneem nadat Swarts met ’n strafdoel geslaag en Gershwin October (heelagter) gaan druk het.
Ná waterdrinktyd het Swarts sy span se voorsprong met ’n suksesvolle strafdoel verder vergroot toe die telling na 25-20 vir Hawston aangeskuif het.
Die wedstryd het vir ’n rukkie wipplank gery, terwyl Robertson met meer dringendheid begin gespeel het.
Ná volgehoue druk in die besoekers se kwartgebied het Town weer sy neus voor gekry toe Juandré Joseph (heelagter) ná nog ’n aanval oor die besoekers se doellyn gehuppel het. Joseph het vermoedelik sleg getrap en ’n besering opgedoen toe hy vir die drie oorgegaan het. Hy is onmiddellik vervang.
Africa se doelskop was in die kol om die telling 27-25 vir Robertson te maak.
Minute later is Robertson vir onkantspel gestraf en Hawston het ná nog ’n Swarts-strafdoel weer ’n keer verbygeskuif toe die telling 28-27 vir die besoekers word.
Robertson het egter weer die voortou geneem ná briljante spel deur Africa wat deurgaans ’n vlymskerp doring in Hawston se vlees was.
Africa het ná een van sy skitterende breekslae ’n pragdrie gaan druk, dit verdoel en ’n paar minute later ook ’n strafdoel deur die pale gejaag om die telling na 37-28 vir Robertson te laat groei. Skrik-vir-niks het egter hierna die aanskoulikste drie van die dag gedruk.
Die besoekers het ’n sterk aanslag van die tuisspan in sy eie kwartgebied afgeweer. Die bal het by ’n afbreekpunt losgespat en Ronaldo Isaacs (linkervleuel) het dit opgepik. Hy het feitlik oor die lengte van die veld genael en ondanks pogings om hom te stuit, sy lopie met ’n spogdrie onder die pale afgerond.
Die spanning was byna tasbaar toe Swarts seker maak van die doelskop om sy span se agterstand te verklein met die telling wat 37-35 geword het, met Robertson steeds ’n kortkop voor.
Die tuisspan het egter vasgebyt en kort daarna die wind uit die seemanne se seile gehaal toe Cheslin Arendse (plaasvervanger-heelagter) ’n onverdoelde drie gaan druk het.
’n Africa-strafdoel minute later was soos ’n mes deur Hawston se hart, want dit het die wedstryd met min speeltyd oor buite bereik van die besoekers geplaas.
’n begeesterde Robertson Town het dié spannende kragmeting uiteindelik met 45-35 in sy guns beklink.





