Montagu se kunsuitstalling die afgelope naweek was so gewild dat die organiseerders dit oorweeg om dit voortaan jaarliks aan te bied.
’n Groot aantal besoekers van elders in die Wes-Kaap was só beïndruk met wat hulle gesien het, dat hulle nie anders kon as om om elke draai waardering en lof uit te spreek nie.
Montagu, die bekende en geliefde dorp aan die westelike ingang van die Klein-Karoo, is die tuiste van ’n aktiewe en talentvolle groep kunstenaars.
Besoekers kon die afgelope naweek aan die “beste dorpie” in die Wes-Kaap (volgens KFM se luisteraars) die geleentheid benut om kuns van 33 lede van die Montagu-kunsvereniging (MAA) te besigtig toe 17 lokale, waaronder gevestigde galerye en private wonings, hul deure oopgemaak het om plaaslike kunstenaars se werk ten toon te stel.
Die vyf kilometer lange Kunskronkel-roete kon te voet, met ’n fiets of per motor afgelê word.
Besoekers by die verskillende bestemmings kon nie net die kunswerke sien en koop nie, maar ook ander aktiwiteite geniet.
Party van die uitstallokale het gratis wyn of Montagu-muskadel aangebied, terwyl by van die ander koek en tee en ligte middagetes bedien is.
Van die kunstenaars het ook hul kunstegnieke aan besoekers ten toon gestel.
Baie van die besoekers was beïndruk met die talent van die Montagu-kunstenaars en het ook groot waardering gehad vir die wye spektrum onderwerpe en die verskeidenheid kunsmediums.
Die uitstalling het gewis iets vir almal gebied.
Die gehalte van die uitgestalde kuns was egter nie die enigste trekpleister nie. Besoekers wat óf al 17 lokale besoek het óf kunswerke ter waarde van ’n minimum van R200 gekoop het, het in aanmerking gekom vir heerlike pryse wat deur plaaslike sakeondernemings en kunstenaars geskenk is.
Die meeste van die pryswenners, wie se name Sondagmiddag uit ’n hoed getrek is, kom van buite die Montagu-gebied – wat weer eens ’n bewys is dat ’n besoek aan Montagu altyd die moeite werd is.
Die organiseerders het nou ’n vaste mandaat van die MAA en die hele dorp om die moontlikheid van ’n jaarlikse Kunskronkel-roete te ondersoek.





