Een van die Robertson-kunstenaar Juanette Menderoi se kunswerke.


Die welbekende tekening van ’n meisie met ’n rooi hartvormige ballon was al die onderwerp van vele gesprekke – nie net oor die betekenis daarvan nie, maar ook oor die kunstenaar self.

Banksy, die wêreldbekende anonieme graffiti-kunstenaar, het in 2002 dié tekening teen ’n muur van ’n gebou in Londen gemaak. Die kunstenaar was toe nog onbekend. Sedertdien is daar baie gissings oor die kunstenaar se identiteit, met ’n koerantberig van 2008 wat beweer dat Banksy eintlik Robin Gunningham, gebore 28 Julie 1974, is.

’n Plaaslike kunstenaar van Robertson, Juanette Menderoi – self bekend vir haar stillewe-olieverf- en paletmes-skilderye – het ná ’n Facebook-plasing, met hierdie einste tekening as tema, ’n uitdaging aan Suid-Afrikaanse kunstenaars gestel.

Vir haar was dit ’n oomblik van spontane inspirasie en sy wou dit graag met ander kunstenaars deel.

“Ek wou graag sien hoe lyk ander kunstenaars se weergawe daarvan,” sê Juanette.

Sy sê wanneer die ekonomie byt, word kunstenaars se kreatiwiteit geblok en sy wou juis ander kunstenaars help om geïnspireerd te voel. Sy beskou dit as ’n ideale geleentheid om mekaar se werk te deel. Volgens Juanette het elke kunstenaar sy of haar eie styl en is kunskopers bloot versamelaars wat juis van verskeie kunstenaars koop.

“Kunstenaars moet mekaar eerder ondersteun as om geïntimideer te voel.”

Die uitdaging is oop aan enige kunstenaar, vir enige medium en styl – van skilders tot beeldhouers.

Juanette voel dat styl “uit jou siel uitkom, dit is ’n gevoel”. Sy sê voorts die moontlikhede is eindeloos en kunstenaars kan “so wyd gaan; daar is geen beperking nie”.

Juanette het die uitdaging met behulp van die mede-kunstenaar Mariaan Kotze aan Suid-Afrikaanse kunstenaars gestel en wag gretig om te sien wat kunstenaars gaan oplewer nadat die uitdaging op 5 Maart gesluit en almal se werk op hul sosialemedia-platforms vrygestel is.

Kunsliefhebbers kan die werke daarna koop.

Menderoi hoop dit sal tot ’n uitstalling onder hierdie tema lei en moedig ook jong en nuwe kunstenaars aan om deel te word van hierdie uitdaging en so ook hul ondersteuningsnetwerk te vergroot.

Die uitdaging nooi alle Suid-Afrikaanse kunstenaars om – met Banksy se “Meisie met Ballon” as tema – ná 5 Maart hul eie weergawes hiervan op sosiale media bekend te stel, met die hutsmerk #rooiballongirl. Die doel is om mekaar te help met blootstelling en ook net weer die publiek attent te maak op kuns en die wonderlike talent wat Suid-Afrika het.

Juanette Menderoi is ’n voltydse kunstenaar en woon in Robertson. Vir hierdie 49-jarige kunstenaar is haar werk bevredigend en sy wag nie vir ’n muse om haar aan die skilder te kry nie. Juanette vertel laggend dat trial and error haar opleiding was. Sy het nog steeds haar heel eerste skildery.

“Ek was van die begin af versot op die mestegniek en ek voel dit pas by my persoonlikheid.”

Die kunsgogga het haar meer as tien jaar gelede gebyt nadat sy op die kunstenaar Mariaan Kotze se werkverlief geraak het. Kotze is nou ’n goeie vriendin. Sy het ’n skildery van Kotze gekoop en sedertdien nog nie opgehou skilder nie. “Die eerste skildery van Mariaan wat ek gekoop het, was R400. Ek is nou ’n groot versamelaar.”

. Kontak Juanette per e-pos by juanette.art@gmail.com om meer oor die uitdaging uit te vind, asook om deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article