Die Hugo Naudé-kunssentrum in Worcester groet sy geliefde skoolhoof, Richard Ellman, wanneer hy einde Junie aftree, ná 36 jaar by dié kunsskool.
Volgens Richard gaan hy “sy tweede huis” baie mis, en die herinneringe wat hy oor die jare opgebou het, koester.
Alhoewel Richard nie in Worcester gebore is nie, is hy ’n Worcesteriet in murg en been nadat hy in 1987 in die dorp aangekom het as tekstielonderwyser by die Hugo Naudé-kunssentrum. Hy het vinnig onder die harte van kunsstudente ingekruip.
Oorspronklik van Philippi buite Kaapstad het dié geliefkoosde skoolhoof by die destydse onderwystechnikon in Wellington onderwys gestudeer, en toe by ’n kollege in Mowbray kuns studeer.
Richard se onderwysloopbaan het begin by die Laerskool Albertyn in Uitenhage waar hy ’n laerskoolonderwyser was, en van daar af het hy Worcester toe verhuis waar hy begin het as onderwyser by die Hugo Naudé-kunssentrum, en toe in 2001 as skoolhoof.
Dit is ook in dié dorpie waar hy sy vrou, Eda, ’n mede-kunstenaar, ontmoet het.
Hoekom dan só lank by een skool bly? Volgens Richard het hy verskeie kere aansoek om ander poste gedoen, maar die “deure het aanhou in sy gesig toege- gaan”.
Richard het toe besef dat die Here ’n plan het vir hom, en wil hê dat hy ’n pad moes loop by Worcester se kunsskool.
Richard se afskeidsgeselligheid het op 25 Mei plaasgevind waartydens hy en sy vrou met die Hoër Tegniese Skool (HTS) Drostdy se skoolbus opgelaai is, en saam met sy gaste vervoer is na HTS Drostdy waar die skool se blaasorkes liedjies uitgevoer het, en Richard en sy gaste ’n voorgereg geniet het.
Daarna is die pret voortgesit toe die bus by Worcester Gimnasium stop vir ’n koor- en acapella-vertoning, waarna die gaste toe beweeg het na die Hugo Naudé-kunssentrum vir ’n kunsuitstalling en verdere verversings.
Tans het die kunssentrum 3 200 leerders wat kuns as vak as deel van hul skool se kurrikulum neem, asook ekstra klasse vir beide hoër- en laerskole in die Breedevallei- en Witzenbergstreek.
Volgens Richard sal hy die liefde vir kuns wat hy met die personeel en leerders gedeel het die meeste mis.





