’n Geliefde en bekende inwoner van Worcester, Basie de Klerk (71), is op 29 Desember tragies oorlede nadat hy ’n massiewe hartaanval gehad het.

De Klerk was ’n bekende gesig in landboukringe en het vir jare lank sy eie kunsmisonderneming bestuur.

“My pa was baie lief vir mense en het uit sy pad gegaan om geselsies met mense aan te knoop. Hy het ’n hart van goud gehad en vir ons kinders waardevolle lewenslesse op die lewenspad geleer,” het De Klerk se seun, Manus, aan Standard vertel.

De Klerk het op Dinsdag 29 Desember nog saam met sy twee seuns by hul strandhuis in George gesit en kuier toe hy van hoofpyn begin kla het.

“My pa het bloeddrukpille gebruik en het gereeld hoofpyn gekry. Hy het pille gedrink en vroeg gaan inkruip, maar my sowat ’n uur later geroep en gevra ek moet vir hom water bring. Hy het toe gekla van ’n pyn in sy bors en hy kon later nie asem kry nie. Ons het hom dadelik ongevalle toe geneem, waar hy enkele minute ná ons aankoms ’n hartaanval gehad het.”

Manus sê die dokters het alles in hul vermoë gedoen om sy pa te red, maar hulle kon uiteindelik niks meer vir hom doen nie.

“Alles het so vinnig gebeur en dit was ’n groot skok. Ons het ons ma in 2020 aan Covid-19 verloor en dit was reeds ’n groot slag vir ons gesin.

“Nou voel ons soos weeskinders, en dit is ’n eienaardige gevoel,” sê Manus.

Een van de Klerk se jare lange vriende, Hurbert Strauss, het aan Standard gesê hy het sy beste vriend verloor.

“Hy was altyd reg met ’n grappie, en as jy by hom gekom het, het hy dadelik ’n vuurtjie aangesteek. Hy het altyd die beste raad gehad en sy kinders en sy vrou was sy hele lewe. Ons sal hom vir ewig onthou en gewis vir altyd mis.”

De Klerk is Donderdag 8 Januarie vanuit Worcester begrawe.

Hy laat sy twee seuns, Manus en Estefan, sy twee skoondogters en drie kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article