Haar eie ervaring met servikale kanker, wat naas borskanker die algemeenste onder vroue voorkom, het verander hoe sr. Melisse Willemse (47) van Tulbagh-kliniek vrouegesondheid benader.
Sy is nou meer as ooit tevore gefokus op die voorkoming en vroeë identifisering van kankers. Sy vra dat jong meisies die entstof teen die menslike papiloomvirus (MPV) neem, en dat vroue altyd uitkyk vir simptome wat kan dui op die teenwoordigheid van servikale kanker. MPV is ook bekend as HPV (Human papillomavirus).
Toe sy ’n jong meisie was, was die entstof teen MPV nog nie beskikbaar nie. Sy het ook nie simptome gehad wat aanduidings van servikale kanker kan wees nie. Toe sy vir ’n roetine-papsmeer gaan (’n siftingstoets om servikale kanker op te spoor), is sy gevra om ’n maand later vir ’n prosedure te gaan sodat stukkies van die baarmoeder ook getoets kon word. Die nuus dat sy servikale kanker het, en daarby ’n soort wat vinnig deur haar liggaam kan versprei, was skokkend.
Terwyl sy vir die uitslae gewag het, moes sy egter haar bes doen om opgeruimd te wees, want dis vir haar belangrik om pasiënte vriendelik en professioneel te help.
As deel van haar behandeling moes sy ’n volle abdominale histerektomie ondergaan. Skielik was sy ’n pasiënt tussen kundiges saam met wie sy voorheen vir jare gewerk het. Sy is baie dankbaar teenoor haar man vir sy ondersteuning, en sê hierdie ondersteuning en haar geloof het haar deurgedra.
“Ek het uitgevind daar is ’n familiegeskiedenis van kanker aan my ma se kant. Dis iets wat ek nooit geweet het nie. Kanker is ’n vloekwoord. Dis baie belangrik dat ons oor kanker praat – dis al hoe ons lewens kan red,” sê sy.
Toe sy oor die familiegeskiedenis van kanker uitgevind het, het sy haar familie laat weet, sodat hulle ook vir siftingstoetse kan gaan.
Volgens KANSA kry 1 uit 42 vroue servikale kanker.
“Baie kere is daar nie tekens dat jy kanker kan hê nie. Wees wakker.”
Sy raai jong meisies aan om die entstof teen MPV te kry tydens die veldtog by skole in die omgewings van Witzenberg, Breedevallei, Drakenstein, Stellenbosch en Langeberg van 5 September tot 31 Oktober.
Wes-Kaap Gesondheid en Welstand stel die entstof gratis beskikbaar aan gr. 5-meisies wat ouer as nege jaar is. Ouers moet toestemmingsvorms voltooi en terugstuur na die skool sodat meisies wat toestemming het, die entstof kan kry.
Studies het getoon die entstof is die doeltreffendste wanneer dit op hierdie jong ouderdom toegedien word.
Sr. Willemse vra dat jy na jou naaste kliniek gaan as jy in enige stadium waarskuwingstekens van kanker ervaar. Dit sluit in ongewone vaginale bloeding of ongewone afskeiding uit die vagina, menstruasie wat swaarder en langer aanhou, vaginale bloeding of pyn tydens seks, toename in urinering en vaginale bloeding ná menopouse.


