Die departement van gesondheid doen ’n beroep op Suid-Afrikaners om voorsorgmaatreëls te tref om hulself teen respiratoriese infeksies te beskerm, wat na verwagting in die winter sal toeneem.
Respiratoriese sinsitiale virus (RSV) is nou op piek-sirkulasie terwyl griepinfeksies begin toeneem. Covid-19 gaan ook steeds op lae vlakke sirkuleer.
Aangesien die griepvirus reeds in omloop is, is daar ’n kans dat mense by byeenkomste of die werkplek kan aansteek.
Die departement het gesê dit is raadsaam vir mense – veral diegene met ’n hoë risiko van ernstige griep, soos volwassenes van 65 jaar en ouer, mense met onderliggende siektes soos hart- en longsiektes, mense met MIV en tuberkulose, en swanger vroue – om die griep-entstof te kry om ernstige gesondheidsprobleme te voorkom ingeval hulle die virus opdoen,
Mense kan die risiko om griep te kry verminder deur groot byeenkomste met baie mense te vermy, ’n masker te dra, gereeld hande te was en eerder buite byeen te kom.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement sê om ’n veiliger winterseisoen te hê, moet mense weet wat die simptome is waarvoor hulle moet uitkyk en ingeënt word, stappe doen om hulself en ander te beskerm en tuisbly indien hulle siek is.
Griep is in die algemeen erger as verkoue. In die geval van griep voel ’n mens binne ’n paar uur siek met koors, boonste respiratoriese simptome soos ’n toe of lopende neus, asook moegheid, spierpyn, lyfseer, hoofpyn, koue rillings en dan weer tye van warm sweet.
In die geval van verkoue het ’n mens ’n geblokte of loopneus, maar dit lei gewoonlik nie tot ernstige komplikasies nie.
Griep kan tot ernstige komplikasies lei, insluitend longontsteking.
Longontsteking is die gevolg van óf ’n virale infeksie van griep alleen óf weens ’n bykomende sekondêre bakteriële infeksie.
In die geval van griep kan komplikasies ook insluit dat ’n mens se hart, brein of spiere inflammasie kry, of dat orgaanversaking intree wanneer die griepvirus na ander organe versprei.
’n Inenting teen griep kan ’n mens nie griep gee nie. Die inenting neem wel twee weke voordat dit werk, dus kan ’n mens in daardie tyd aansteek.
’n Mens moet elke jaar ’n nuwe inenting teen griep kry omdat die virusse jaarliks ietwat van mekaar verskil.
’n Inenting teen griep is nie 100% doeltreffend nie en dit hang af van die ouderdom of gesondheid van die pasiënt wat ingeënt is.
Die doeltreffendheid van ’n griep-inenting wissel ook jaarliks afhangend van hoe die entstof ooreenstem met die bepaalde griepvirus wat in omloop is.
Mense moet hul hande gereeld met seep en water was of met ’n alkoholbasis-handreiniger skoonmaak en moet kontak vermy met mense wat siek is.
Die griepvirus versprei hoofsaaklik van mense wat griep onder lede het en hoes, nies of met jou praat.
Dit versprei ook op ’n besmette oppervlak, byvoorbeeld ’n deurhandvatsel, as ’n mens daaraan raak en daarna aan jou mond, oë of neus raak.
Griep-entstof is gratis in openbare klinieke beskikbaar (pasiënte wat eerste inkom word eerste gehelp) en is vir mense in die risikogroepe.
Die entstof kan ook in die private sektor by apteke gekoop word, ook vir diegene wat nie in een van die risikogroepe val nie, maar hulself teen griep wil beskerm.
Mense wat met griep besmet is, is gewoonlik vir drie tot agt dae aansteeklik.
Voorkomende maatreëls soos die dra van maskers en veilige fisieke afstande word aanbeveel. Diegene met griep word gevra:. bedek jou neus en mond wanneer jy hoes of nies;. bly by die huis as jy siek is;. moenie met ongewaste hande aan jou gesig raak nie; en. vermy noue kontak met ander wanneer jy siek is, soos soen, handskud en koppies en eetgerei deel.





