Die o.11-Flying Eagles-krieketspan met hul trofee.

Credit: SYSTEM

Rising Eagles, ’n junior krieketakademie in Worcester, wat saamgestel is uit verskillende skole in die omgewing, het met die toevoeging van ’n o.11-span uitgebrei.

Die akademie het aanvanklik as ’n o.13-krieketspan begin.

Die ontstaan van die akademie is die geesteskind van Bjorn Cochrane en sy ma, Mercia du Plessis.

Die spanne het van 2 tot 5 Oktober aan ’n T20-kompetisie, wat plaaslik op die velde van Esselenpark, Bolandpark en Drostdy beslis is, deelgeneem. Altesaam 16 spanne het in die kompetisie gespeel.

Die o.11-span het bestaan uit Wynand Stofberg (kaptein), Dawid Kamfer, Willem Botha, Wilhan Lourens, Christo Greyling, Leonaydio Mackenzie en Henlu Bam (almal Worcester-Noord), JG Lingenfelder (Worcester-Oos), Jordan Taute Matthew Rossouw (albei Laerskool Ashton) en Deaconn-Duane Willemse (Laerskool Wynland).

Die o.13-span was Ruan Nortje (kaptein), Christiaan du Toit, Kallie Brink, Jannes Krynauw, Tehan Jonck, Daniel Malan, FG Kloppers, Chrisjan de Bod, Wian van Deventer en Daneli Boshoff (almal Worcester-Noord).

Die spanne het goed presteer onder afrigting van Bjorn Cochrane, ’n vlak 2-afrigter. Cochrane is ’n senior Worcester United-premierligaspeler en het Boland vanjaar by die nasionale binnenshuise kriekettoernooi verteenwoordig, waar hy sy Protea-kleure verwerf het.

Die ander afrigter was Dawie van Graan en die spanne is saamgestel deur De Wit Kamfer van Worcester-Noord.

Die o.11-span het die toernooi gewen met Leonaydio Mackenzie wat as die kolwer van die toernooi aangewys is.

Die o.13-span het op sy beurt die eindronde in die kompetisie gehaal, maar teen Kaapse Wynland verloor.

Cochrane wil die spelers van die akademie in die toekoms bemagtig as mediabeamptes, tellinghouers en skeidsregters. Ouers kan hom by 065 859 5715 of Warren Potgieter by 083 426 2505 bel om hul dogters of seuns by die akademie in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article