Worcester se krematorium is die tweede krematorium in die Wes-Kaap waarvan die deure tydelik vir nuwe besprekings gesluit moes word weens ’n agterstand as gevolg van ’n gebrek aan instandhoudingswerk.
Volgens die bestuurder van dié krematorium funksioneer die gebou steeds om die agterstand in te haal, maar neem net nie nuwe lyke in nie.
Worcester krematorium
Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), het per e-pos aan Standard gesê Worcester se krematorium sal slegs tot môre (Vrydag 7 Julie) gesluit wees.
Die plaaslike krematorium heropen Maandag (10 Julie) vir nuwe besprekings.
“Tans is die Drakenstein se krematorium in die Paarl buite werking, en dit op sigself plaas druk op die ander drie krematoriums in die Wes-Kaap, onder meer Maitland, Durbanville en Worcester. Al drie hierdie instansies ervaar tans agterstande as gevolg van die een wat buite werking is,” het Botha verduidelik.
Die Worcester-krematorium het net een werkende oond, sê Botha.
Sy het ook verduidelik een oond is tans buite werking en word deur die Onafhanklike Krematorium Suid-Afrika (ICSA), die BVM se diensverskaffer wat die kontrak gekry het om die verassings te doen, gediens.
Standard het uitgereik na ICSA vir verdere inligting oor die herstel van die oond, maar het teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.
Volgens Botha sluit verdere uitdagings beurtkrag in, asook Suid-Afrika se lugvrystellingslisensie (AEL) wat verassings tot agt liggame per dag beperk.
“Hulle [Worcester se krematorium] het ’n agterstand van 32 liggame en sy lisensie laat hom toe om net agt liggame per dag te veras. Die besprekings wat hy reeds het – van 16 liggame – sal hy Vrydag en Saterdag hanteer,” het Botha gesê.
’n Provinsiale probleem
Johan Rousseau, voorsitter van die Regulatoriese Vereniging van die Begrafnisbedryf (Fira), ’n onafhanklike begrafnisvereniging in Suid-Afrika, het telefonies aan Standard gesê krematoriums in die Wes-Kaap word weens swak instandhoudingswerk teen ’n 30%-kapasiteit bedryf.
In ’n onderhoud met die CapeTalk-radiostasie op 22 Junie het Rousseau ook verduidelik dat dié probleem reeds van 2011 af die kop uitsteek – hoofsaaklik weens die diensverskaffers wat deur munisipaliteite aangestel word en nie die krematoriums optimaal bestuur nie.
“Krematoriums is in munisipale besit, maar word deur private diensverskaffers, wat deur die munisipaliteit aangestel is, bestuur,” het Rousseau in die radio-onderhoud gesê.
Hy het ook verduidelik dat begrafnisondernemers weens die oorvol krematoriums op hul eie koste lyke na die krematorium in Dispatch in die Oos-Kaap moet vervoer, asook ander krematoriums in die Oos-Kaap, waar die lyke weens die oponthoude dan gebalsem moet word.
“Begrafnisondernemers vra ’n vasgestelde bedrag vir verassings, maar hierdie bykomende en onbeplande uitgawes, soos om die lyk na byvoorbeeld die Oos-Kaap te vervoer, moet hulle self dek,” het Rousseau gesê.
Luidens die telefoongesprek met hom het Fira reeds die provinsiale en die nasionale regering oor die probleem genader en voorstelle gedoen waarop die regerings binnekort sal reageer.
Weens die Wes-Kaapse krematoriums se agterstande wag sommige families drie tot agt weke vir hul geliefdes se as, wat ook wrywing tussen hulle en die begrafnisondernemers veroorsaak aangesien die families nie van dié uitdagings bewus is nie, het Rousseau gesê.
Volgens hom is dit ook plaaslike munisipaliteite se verantwoordelikheid om seker te maak dat die entiteit wat die krematorium bestuur, dit wel doen.





