Villas se flank Mario Marinus kry die bal in die lynstaan weggestuu.Foto:


Worcester Villagers, of te wel Villa, moes Saterdag in sy laaste opwarmings-wedstryd voor die amptelike Boland-rugbyunie se liga, wat Saterdag (2 Maart) in alle erns afskop, in ’n wegwedstryd in St. Helenabaai teen die tuisspan die knie met 31-22 buig.

Die wedstryd, met hope opwinding maar ook met sy kwota omstredenheid, het egter genoeg skietgoed vir die onderskeie afrigters gelaat om hul planne vir die uitdagende seisoen, wat op hulle wag, voor te berei.

Villa het sommer van meet af aan sy stempel probeer afdruk deur met verskeie aanslae die opponent-doellyn met reëlmaat aan te val. Dit werp vrugte af toe die regtervleuel John van Neel in die hoekie oorgaan. Die binnesenter Jarian de Klerk se doelskop het egter regs verbygetrek. St. Helenabaai het egter hard teruggeslaan toe sy regtervleuel, Morné Alexander, ook in die hoekie oorgeduik het. Sy losskakel, Ferlin Julies, het met sy doelskop geslaag vir ’n 7-5-voorsprong.

Villa het egter weer die voortou geneem toe sy linkervleuel, Cubitt Micheals, langs die pale gedruk het ná ’n goed berekende binne-aangee van sy losskakel, Gurshwin Joubert. De Klerk het met die maklike doelskop geslaag om Villa met 12-7 te laat voorloop.

Die Kreefvangers het egter weer terug in die prentjie gekom en sake gelyk gemaak toe Alexander sy tweede drie gedruk en Julies ongelukkig nie kon verdoel nie. St. Helenabaai het die voortou kort voor rustyd geneem toe die plaasvervanger-buitesenter Delvin Coenraad gaan druk en Julies verdoel het om teen rustyd 19-12 voor te loop.

De Klerk het die agterstand ná rustyd laat krimp deur met ’n netjiese strafskop te slaag. ’n Blaps deur die skeidsregter, Randall April van Hopefield, het hierna gevolg toe die flank Granville Arendse met puik dekverdediging by die kantlyn uitgeboender is voordat hy kon druk, maar die drie is wel toegeken. Nog ’n blaps het gevolg toe Villa se vlugvoetige flank Mario Marinus verhinder is om te druk nadat hy reg onder sy teenstanders uitgehardloop het. Toe kaptein, Johannes Geldenhuys, sy lot by die skeidsregter gaan bekla het, is ’n strafskop teen Villa in plaas van ’n strafdrie toegeken. Villa het egter wel punte gekry toe die plaasvervanger-heelagter Kevin Filander ’n drie gedruk en De Klerk verdoel het.

Kort voor die einde is Coenraad egter vir sy tweede drie oor en met Julies se geslaagde doelskop, het die wedstryd met 31-22 in die tuisspan se guns geëindig.. Villa begin Saterdag (2 April) sy aanslag op liga-louere in die Langeberg-afdeling van die Boland Rugbyunie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article