Worcester Hospitaal beskik eersdaags oor meer kapasiteit in sy kraamsaal waar ’n nuwe vroedvrou-verloskunde-eenheid ingerig word.Foto: Ter illustrasie


Meer babas sal binnekort hul eerste asemteug by Worcester Hospitaal neem, waar ’n nuwe vroedvrou-verloskunde-eenheid (kraamsaal) in ’n bestaande saal ingerig word.

Tans gaan staatspasiënte wat hoërisiko-swangerskappe het, asook dié wat vir ’n keisersnee geskeduleer is, na Worcester Hospitaal om geboorte te gee. Vroue met laerisiko-swangerskappe gee geboorte by die Worcester-gemeenskaps-dagsentrum (of daghospitaal, soos dit in die gemeenskap bekendstaan) se vroedvrou-verloskunde-eenheid. Hierdie diens sal na Worcester Hospitaal skuif sodra die nuwe eenheid geopen word.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand poog altyd om dienslewering meer pasiënt-gefokus te maak en om hulpbronne meer doeltreffend te gebruik. Vir ’n geruime tyd weeg plaaslike spanne reeds die voordele op om die vroedvrou-verloskunde-eenheid by Worcester Hospitaal se dienste te integreer. Die departement sien uit na hierdie verandering omdat dit voordele vir pasiënte en personeel inhou.

Voordele vir pasiënte

Worcester Hospitaal se vroedvrou-verloskunde-eenheid sal gedryf word deur vroedvroue (soos tans by die eenheid by die Worcester Gemeenskapsdagsentrum). Die voordeel is dat indien daar komplikasies of ’n noodgeval is, die ervare vroedvroue bygestaan kan word deur personeel in dieselfde gebou. Dit kan die lewe van ma’s en hul babas red.

Worcester Hospitaal se vroedvrou-verloskunde-eenheid het ook ’n toegewyde deel waar vroue veilig kan stap om die geboorteproses aan te hits.

Soos altyd word vroue aangemoedig om die baba se pa of ’n familielid by hulle te hê tydens die bevalling en by Worcester Hospitaal se vroedvrou-verloskunde-eenheid is daar ’n wagkamer waar geliefdes op hul gemak kan wees.

Voordele vir personeel

Die professionele verpleegkundiges (gekwalifiseerd in verloskunde) wat die gemeenskap by die Worcester-gemeenskapsdagsentrum se vroedvrou-verloskunde-eenheid leer ken het, sal hierdie diens by die hospitaal se eenheid lewer. Hulle sal deel wees van ’n groter span kenners in verloskunde en ginekologie, wat hulle die geleentheid sal gee om hul vaardighede verder te ontwikkel. Hulle sal ook betrokke wees by die bestuur wat hulle sal kan ondersteun.

“Ons sien uit na die opening van die eenheid en om die personeel as deel van die span te verwelkom. Hoewel ons die saal vir die doel van hierdie eenheid omskep, het ons die heeltyd gefokus op wat die ervaring so positief as moontlik kan maak vir vroue in hierdie kwesbare en kosbare tyd,” sê Daniel Matthew, die hoof van Worcester Hospitaal.

Die laaste voorbereidings word tans by dié eenheid getref. Die gemeenskap en pasiënte sal ingelig word voordat die verskuiwing plaasvind. Die ingang na Worcester Hospitaal se vroedvrou-verloskunde-eenheid (op die hospitaal se perseel in Murraystraat) sal deur rigtingaanwysers aangedui word.

Nadat die diens by Worcester Hospitaal geïntegreer is, sal die ruimte wat tans vir dié diens by die Worcester-gemeenskapsdagsentrum gebruik word, vir ander gesondheidsdienste aangewend word, soos dienste aan ma’s met babas en wondsorg.

“Ons streef deurlopend daarna om dienste aan die gemeenskap te verbeter en om die beste kliniese sorg te gee,” sê dr. Danie Theron, bestuurder van die Breedevallei sub-distrik.

Berei jou voor vir jou baba se geboorte

Gesondheidswerkers herinner swanger vroue daaraan om selfs nog beter na hul swangerskap om te sien deur ’n verskeidenheid kos, wat vrugte en groente insluit, te eet en alkohol en ander dwelms te vermy. Sodoende ondersteun jy jou baba se ontwikkeling. Indien jy baie hartseer voel of angstig is oor die baba, of as jy bekommerd is oor jou of jou baba se gesondheid, kontak jou gesondheidswerker. Praat ook met jou gesondheidswerker oor jou plan vir die baba se geboorte. Dit sluit in:

. Hoe om jou baba te borsvoed en die voordele van borsvoeding vir jou baba vir minstens die eerste ses maande;

. Wat om te pak in die sak wat gereed moet wees om saam met jou te neem wanneer dit tyd is vir jou baba se geboorte; en

. Reël dat iemand jou na die eenheid waar jy geboorte sal skenk, sal neem. Gesondheidswerkers van Worcester en die omgewing sal jou sê waar jy geboorte sal skenk. Tot verdere kennisgewing moet vroue met laerisiko-swangerskappe steeds na die vroedvrou-verloskunde-eenheid in Suggetstraat gaan.

. Gaan dadelik hospitaal toe of skakel die ambulans by 10177 indien jy gevaartekens oplet, soos vaginale bloeding, uitermatige buikpyn of stuiptrekkings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article