Besoekers het van heinde en ver gekom om op Saterdag 13 Mei die jaarlikse Nuyvallei-fees by te woon.
Hierdie gesinsvriendelike buitelugfees met bekroonde wyne en fyn plattelandse kos was toegespits daarop om hul oes vir die jaar te vier.
Die Nuyvallei, 13 km van Worcester op die Robertsonpad (R60), word allerweë beskou as een van die mooiste versteekte gebiede in die Wes-Kaap.
Die Nuyvallei is veral bekend vir sy skilderagtige berge, wingerde, bekroonde wyne en wêreldklas olyfprodukte en het ’n ouwêreldse sjarme wat veral besoekers bekoor het.
Die gewilde fees is deur Nuy Winery by Nuy on the Hill, Willow Creek Olive Estate, Leipzig Country House and Winery en Lions Creek Olive Estate aangebied.
Daar is ’n wye verskeidenheid aktiwiteite en doendinge vir die hele gesin aangebied – veral vir die jongspan. Daar was genoeg musiek, wyn, olyfprodukte, tradisionele Duitse disse en boetiekbier om van te kies en te keur. Daar was ook verskeie staproetes en ’n bergfietswedren vir avontuurlustiges. ’n Hoogtepunt vir besoekers was die verskeie trekker-wa-ritte deur die wingerde en olyfboorde en selfs tussen al die verskeie plekke op die roete.
Die koue het beslis nie besoekers gestuit om deel te neem aan al die aktiwiteite nie en die fees was soos elke jaar ’n reuse-sukses.





