’n Korrektiewe beampte (39) van Brandvlei is Sondag 21 April vir verkragting in hegtenis geneem.
Volgens hofdokumente het die beampte Donderdag 18 April twee vroue aangerand en verkrag. Die eerste voorval wat in die dokumente aangeteken is, het glo naby die Worcester-dam plaasgevind.
“Die verdagte het drank vir hom, die slagoffer en ’n ooggetuie gekoop en hulle het by die Worcester-dam in die parkeerplek gaan staan. Later het hy die ooggetuie gaan aflaai, maar voor die slagoffer kon uitklim, het hy die deur gesluit en weer gery.”
Toe hulle weer stilhou, het die verdagte vir die slagoffer gesê om met hom geslagsgemeenskap te hê.
“Sy het egter geweier en hy het haar toe geslaan en gewurg tot op die punt dat sy haar bewussyn verloor het. Toe sy wakkerskrik, was die verdagte bo-op haar, besig om haar te penetreer. Daarna het hy die slagoffer gedwing om orale seks op hom uit te oefen. Toe hy klaar was, het hy haar gaan aflaai. Die slagoffer het onmiddellik haar ouers vertel wat gebeur het en hulle het haar na die Worcester-hospitaal geneem sodat sy vir toetse kon gaan voordat hulle ’n klagte by die polisie aangemeld gaan maak het,” het AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, verduidelik.
Die hofdokumente verwys ook na ’n tweede slagoffer wat op dieselfde dag deur die verdagte geklap, gewurg en betas is. Dus staan die verdagte tereg op ses aanklagte, wat seksuele aanranding, twee aanrandingsaanklagte, ontvoering en twee aanklagte van verkragting insluit.
Standard & Gazette het na die Departement van Korrektiewe Dienste uitgereik, maar teen druktyd nog geen kommentaar ontvang nie.
Die verdagte het Maandag 22 April in die hof verskyn en gekies om sy eie prokureur te kry. Die saak is uitgestel tot 26 April vir die prokureur om op rekord te kom.


