“Touwsrivier is nie net ’n armlastige dorpie binne die grense van die Breedevallei-munisipaliteit en ’n broeiplek vir misdaad nie – dis dié dorp in die vallei waar koper-blaasorkes-musiek van die Touwsrivier-blaasorkes besoekers groet; ’n plek vol gasvrye inwoners wat aan alle jongmense ’n skuiling teen sosiale euwels bied,” sê Godfrey Pharo, die voorsitter van dié welbekende koper-blaasorkes.
Die orkes is reeds in 1956 gestig, maar dié mylpaal van 67 jaar se geskiedenis kan egter nie vanjaar met glans en glorie gevier word as die instelling, wat as ’n organisasie sonder winsoogmerk geregistreer is, nie sy entoesiastiese jong orkeslede van instrumente kan voorsien nie.
Die orkes bestaan uit ongeveer 40 lede, van wie ongeveer die helfte skoolleerders is.
“Dis die jong klomp wat met blink koper-blaasinstrumente die toekoms in moet marsjeer. Maar omdat ons so vinnig gegroei het, is die instrumente nou te min. Dieselfde uitdaging word ondervind wanneer die orkesmeester, Eddie van Niekerk, die jonges se talent tydens orkes-oefening slyp, want dan moet hulle om die beurt blaas. Ons noodkreet is veral hulp met trompette en tenoor-instrumente,” verwoord Pharo hul pleidooi.
Sy versoek is om hulp uit die Breedevallei gemeenskap, maar spesifiek oud-Touwsrivierders wat verspreid in die vallei woon, om die orkes geldelik of andersins te ondersteun. Enige bladmusiek en bladmusiek-staanders en enige skenking van gebruikte koper-blaasinstrumente sal waardeer word.
Die blaasorkes reis omtrent die Wes-Kaap vol en tree by begrafnisse op, waar hulle die stoet van die huis na die kerk en dan na die begraafplaas met orkesmusiek begelei. Hul vertolking van veral die Dodemars tydens begrafnisse laat begrafnisgangers gereeld ’n traan afvee.
Hulle tree ook op by feeste, sportbyeenkomste en verskeie sosiale geleenthede wanneer hulle ’n uitnodiging ontvang. Een van hul onlangse optredes was Sondag 30 April toe die plaaslike Nederduits Gereformeerde kerk van hul eerste nie-wit dominee, Andrew Esterhuizen, ook konsulent vir die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK), tydens sy laaste optrede in die VGK gemeente afskeid geneem het.
Een van die vele onthou-oomblikke vir die orkes is toe hulle by twee geleenthede voor die staatsrede by die parlement opgetree het. . Individue, sakeondernemings en ontwikkelingsorganisasies wat die orkes se visie “Gee elke kind ’n blaasinstrument” ondersteun, kan Godfrey Pharo by 076 174 4859 of per e-pos by gottapharo@gmail.com kontak, of Gilbert Donson by 061 074 0545 bel.



