Verskeie rolspelers en reddingsdienste by die noodlottige ongelukstoneel.Foto: Ismail’s Towing


’n Vrou is gisteraand (24 Mei) in ’n noodlottige ongeluk op die N1 naby Rawsonville dood toe haar BMW teen ’n vragmotor gebots het.

Volgens Nico Haremse, stigter van die Breedevallei-plaaswag

het die ongeluk omstreeks 20:00 ’n klipgooi van die weegbrug plaasgevind. Hy het gesê met die aankoms van die plaaswag op die toneel, was die bestuurder van die motor reeds dood.

Volgens ‘n insleediens-drywer van Worcester wie op die toneel was, het die motoris in die aankomende verkeer se baan gery en teen die vragmotor gebots. Hy het verduidelik dat die vragmotor in die rigting van Kaapstad gery het, en die motoris in die rigting van Worcester, toe die noodlottige ongeluk plaasgevind het.

Volgens die drywer van die vragmotor, met wie hy gepraat het, het hy die motoris probeer waarsku deur sy ligte te flikker en het ook probeer uitswaai. Maar hy kon nie die botsing keer nie.

“Die motoris is waarskynlik opslag dood en die vragmotorbestuurder het geen beserings opgedoen nie. [Hy is] wel erg geskok en getraumatiseer,” het die insleepdiens-drywer aan die Standard gesê. Met die aankoms van die nooddienste moes die paramedici die vrou se lyk uit die wrak sny.

Sersant Vivienne Hurling-Jordaan, woordvoerder van die Rawsonville-polisie het die voorval aan die Standard bevestig, en bygevoeg dat ’n klag van strafbare manslag ondersoek word.

Tans kan die identiteit van die motoris nie bekend gemaak word nie, omdat haar liggaam nog uitgeken moet word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article