Een van The Fleet Kersfeeskoor se lede het self sy lyf speurder gehou om hul gesteelde instrumente, wat oor die naweek verdwyn het, terug te kry.
Koorlede is Saterdagoggend om 06:49 in kennis gestel van ’n inbraak by die plek waar hulle oefen.
“Ons oefen tans in die gebou waar Vallei FM is, en Saterdagoggend het hulle ons laat weet oor die inbraak,” verduidelik Nolan Daames, die koor se kassier.
Toe hulle by die lokaal aankom, was die veiligheidshek en deur oopgebreek.
“Ons het opgelet hulle wou eers aan die agterkant van die gebou probeer ingaan, maar was nie suksesvol nie. Die diewe het toe drie alt-saksofone en een sopraan-saksofoon gesteel,” verduidelik Daames.
Hierdie diefstal het plaasgevind die aand voor hulle Sondag aan ’n Unie-kompetisie moes deelneem. En volgens koorlede het dit hul gemoed erg beïnvloed, veral die jong lede wat die spesifieke instrumente in hul solo’s moes gebruik.
Teen Maandagmiddag kon Wayne du Toit, wat al van vierjarige ouderdom betrokke is by die koor, nie meer sit en wag vir die instrumente om opgespoor te word nie.
“Sedert ek van die diefstal weet, het ek inligting oor die vermeende verdagte begin versamel, maar kon nie veel uitgerig kry nie, want ons moes nog vir oulaas oefen vir die kompetisie en Sondag was ons heeldag by die kompetisie. Maandag was ek moeg, maar teen die middag het ek besluit om verdere ondersoek in te stel,” verduidelik Du Toit.
Hy het onthou dat iemand genoem het terwyl dit Saterdag gereën het, het iemand anders, met uit iets koper onder sy hemp versteek, verby hom geloop. Volgens Du Toit het die persoon nadat die nuus van die diefstal versprei het, besef dit was ’n instrument wat onder die persoon se hemp versteek was.
“Ek is bekend met die persoon wat ons instrumente gesteel het. Ek is toe na sy deel van die buurt toe. ’n Ander mannetjie het my toe in my soektog gehelp en het later gebieg dat hy een van die instrumente in sy besit het nadat die verdagte dit glo vir hom gegee het om te hou.”
Volgens Du Toit en ander koorlede is die verdagte ’n bekende dwelmgebruiker en is hy glo betaal om die instrumente te steel.
“Terwyl ek by die ander man se huis was om die instrument te kry, kom die verdagte toe daar aan en skreeu dat daar mense is wat hom wou doodmaak. Ons het hom laat inkom en ek het sommer die deure van die huis laat toemaak. Ons het gesels en ek het gesê ons wag maar vir die polisie om dinge te kom uitsorteer.”
Du Toit verduidelik verder dat die verdagte deur ’n venster wou ontsnap, maar dat hulle hom aan sy voete en bene geryp en vasgehou het.
“Terwyl hy so halflyf by die venster uitgehang het, het iemand anders daar aangekom en hom met ’n stok met ’n skerp punt aanhoudend gesteek. Dit was ook iemand wat op soek was na die instrumente.”
Die verdagte het toe later vir hulle vertel waar hulle die ander instrumente kan kry.
“Die instrumente was toe by ’n ander lid van ons koor. Dit het sin gemaak, want toe ons hom Saterdagmiddag gaan haal het om te oefen, toe wou hy nie saam gaan oefen het nie.”
Volgens Du Toit is hulle onmiddellik na sy huis, maar die lid was toe nog by sy werk.
“Ons het vir hom gewag, maar terwyl ons daar was het hy sy vrou laat weet sy moet vir ons die instrumente gee. Ná dit het die ander outjie ons begraafplaas toe geneem waar al die instrumente se instrumenthouers was.”
Daar word nog na een alt-saksofoon gesoek en die koor vra die gemeenskap se hulp om dit op te spoor. Indien enige iemand die koor wil help om die instrument te vervang, kan hulle die voorsitter, Brian Steenberg, by 061 123 9349 bel, of Wilfred September by 084 472 8300.





