’n Worcesterse polisiekonstabel het Sondag 25 Februarie ’n vrou die lewe help skenk.
Konst. Facia Fransman was aan diens by die satellietpolisiekantoor in Zwelethemba toe sy die jong vrou te hulp gesnel het. Sy was besig om ’n dossier te open toe sy die vrou op die kringtelevisiemonitor gewaar.
“Ek was so moeg terwyl ek besig was, maar ek sal nooit vergeet nie – dit was 13:25. My skofbevelvoerder het langs my gesit. En hy sê toe uit die bloute daai vrou lyk asof sy nou gaan kind kry. Ek kyk toe op en sien die vrou is handeviervoet op die grond.”
Fransman het haar na die vrou gehaas. “Ek het haar na een van die agterste kamers geneem. Daar is nie veel in daardie gebou nie, maar ek het ’n kombers gekry om op die grond te gooi. Ek het probeer om aan die mamma te verduidelik dat sy op die kombers moet gaan lê, maar sy kon nie verstaan nie en ek wys haar toe hoe sy moet lê.
“Sy het toe gaan lê soos ek gewys het en maak haar toe vuil. Sy was so skaam, maar ek het haar verseker dis oukei en het iets gaan soek om haar skoon te maak. Toe ek terugkeer en ingaan by die kamer het ek net gesien daar kom ’n kop.”
Sy bieg dat haar eerste instink was om weg te hardloop.
“Maar my lewe-of-dood-instink het oorgeneem en ek het voor die vrou gaan sit en haar gesê om kalm te bly en asem te haal. Ek toe vir haar gesê om weer te druk, toe kom die skouertjies, maar hulle het vasgesit. Toe sy weer druk, het ek die baba se skouers gedraai en hom liggies uitgetrek.”
Die baba het veilig in haar hande beland.
“Hy het so twee hoesies gegee. Ek het hom omgedraai en sy rug gevryf en toe begin huil hy. Ek het amper saam gehuil. Ek het hom toe op sy ma se bors neergesit. Haar gesig het ’n uitdrukking van dankbaarheid gehad. Ek het toe iets gaan soek om hom mee toe te draai, maar het besef daar is niks by die polisiekantoor nie, toe trek ek my trui uit om hom toe te draai.”
Die ambulans is ontbied om die mamma en haar seuntjie hospitaal toe te neem.
“Ons het ’n hele tydjie vir die ambulans gewag. Ek het hulle toe gebel en gevra waar hulle is, maar hulle sê toe hulle het net een ambulans vir Worcester. Ek het toe ’n paar kledingstukke en lappe agter in die kantoor gekry en my skofbevelvoerder gevra om dit op die agtersitplek van my motor te gaan gooi. Ek het toe self die mamma en seuntjie hospitaal toe geneem. Sy was so dankbaar; sy het my die heelpad hospitaal toe bedank.”
By die hospitaal het Fransman vinnig hulp vir die twee ontbied en saamgegaan toe hulle haar na die kraamsaal geneem het.
“Terwyl ons in die gang af loop, het ek besef ek gaan nooit weer hierdie vrou sien nie. Ek het toe vir iemand gevra om net ’n foto van ons te neem.”
Fransman is baie trots op haarself.
“Maar ek is ook getraumatiseer omdat twee mense se lewe in my hande was. Ek voel so baie emosies as ek terugdink. Dit was beslis ’n belewenis.”





