Die onlangse afsterwe van die Britse monarg, Koningin Elizabeth II, het talle weer laat terugdink aan haar noue band met Suid-Afrika en veral die besoeke wat sy as jong prinses aan Suid-Afrika afgelê het. Sy het selfs paar weke voor haar afsterwe vir oulaas ’n brief aan Worcester gerig.“Dit is interessant om te weet dat koningin Elizabeth II regdeur haar lewe –tot twee maande voor haar dood – eintlik ’n baie spesiale band met Worcester gehad het. Daar is vele plekke in Worcester en die nabye omgewing wat vandag nog besigtig kan word, nadat dit ook deur die koninklike gesin besoek is,” verduidelik raadslid vir kuns, kultuur en toerisme, dr. Julian Kritzinger.
In die geskiedenis van Worcester was daar drie baie groot besoeke aan die dorp gewees waar mense van heinde en verre hierheen gestroom het om die hoëprofielgaste te sien en te groet. Die eerste een was koning Edward se besoek in 1937, toe hy nog die prins van Wallis was. Die tweede en was die koninklike gesin, koning George VI, koningin Elizabeth, prinses Elizabeth (later koningin Elizabeth II) en prinses Margaret se koninklike besoek met die Wittrein in 1947. Die derde een was President Nelson Mandela se presidensiële besoek op die inhuldigingsrit van die nuwe Bloutrein in 1997.
In die aanloop met die Worcester 200-jaar vieringe (1820 – 2020) is ’n skrywe deur dr. Kritzinger as voorsitter van die fees se beplanningskomitee aan koningin Elizabeth II gestuur om haar te vra om as hoof van die statebond, waarvan Suid-Afrika ’n lid is, ’n brief van gelukwensing met die dorp se 200-jarige bestaan te stuur. Twee jaar later, het die Koningin op 10 Junie 2022, vanaf Windsor-kasteel via haar hofdame, Jennifer Gordon-Lennox, terug geantwoord.
“In die skrywe namens die koningin, bedank die koningin vir my vir die foto’s wat ek vir haar, van haar en haar familie gestuur het wat in 1947 in Worcester geneem is. Die koningin het gesê dat dit vir haar aangenaam was om my skrywe te ontvang en sy maak ook verskoning dat dit vir haar so lank geneem het om terug te antwoord, maar dat sy ’n magdom ander verpligtinge gehad het. In haar skrywe, sê sy dan ook dat die koningin met groot belangstelling verneem het dat Worcester 200 jaar oud geword het, en dra sy ook haar beste wense aan almal in Worcester oordra. Die brief sluit dan af met ’n bedanking dat ek dit goedgedink het om vir die Koningin aangaande die groot mylpaal in ons dorp se geskiedenis te skryf en vir haar daarvan in te lig en haar daarby te betrek,” vertel Kritzinger trots.
Hierdie brief is merkwaardig in die sin dat dit op 10 Junie geskryf is, wat 89 dae voor haar afsterwe op 8 September was.
Tydens koningin Elizabeth II se besoek aan Worcester was sy ’n blote 20-jarige prinses, en ten tyde van haar brief wat sy aan Kritzinger geskryf het om haar beste wense aan Worcester se inwoners met die dorp se 200-jarige bestaan oor te dra, was sy ’n 96-jarige koningin. Dit dui op ’n band van 75-jaar wat koningin Elizabeth met Worcester en sy mense gehad het – wat inderdaad ’n baie spesiaal band is.
“Dit is merkwaardig om te dink dat van die laaste takies wat die koningin voor haar afsterwe gedoen het, was om vir oulaas haar seënwense aan Worcester se inwoners te stuur. Hierdie kosbare brief is ’n blywende dokument wat hierdie lang verbintenis vergestalt en die era waarin ons geleef het, vasvang. Die feit dat die koningin so kort voor haar dood nog geskryf het dat sy nog goed haar besoek an Worcester kon onthou, wys watter groot indruk hierdie area en sy mense 75 jaar na die tyd nog op haar gemaak het.”
Tydlyn van die koninklike besoeke aan die Breedevallei:
1860: Prins Alfred se besoek aan Suid-Afrika
Die eerste Britse koninklike wie ooit die suidelike halfrond besoek het, was koningin Victoria se man, Prins Alfred, in 1860. Hy was Koningin Elizabeth II se oupa se oupa. Alhoewel Prins Alfred die Kaapkolonie besoek het, het hy nie by Worcester omgekom nie. Die destydse Raad van Kommissarisse van Worcester het egter ’n brief aan hom geskryf om hom ’n geseënde reis deur die Kaapkolonie toe te wens. Hy het daarop geantwoord en sy dankbetuiging vir die seënwense uitgespreek en sy beste wense aan Worcester se inwoners gestuur. Hierdie kosbare brief is vandag in een van die ou notuleboeke van die Raad van Kommissarisse te sien.
1925: Koningin Elizabeth II se oom, Prins Edward van Wallis besoek Worcester
Koningin Elizabeth II se oom, koning Edward VIII het Worcester in 1925 besoek, toe hy nog die prins van Wallis was. Sy besoek was grootliks rondom Kerkplein gesentreer en die destydse burgemeester, PA Malan, het vir hom op ’n begeleide toer van die tuin van herinneringe geneem en na die tyd het hy al Worcester se militêre veterane van die eerste wêreldoorlog ontmoet. Hy het later, in 1936, koning van Engeland geword.
17 Februarie 1947: Aankoms in Kaapstad
Die koninklike besoek aan Worcester was ’n veel groter gebeurtenis. Die koninklike gesin het op 17 Februarie 1947 met die HMS Vanguard-skip in Tafelbaai aangekom.
Vir die tyd wat die koninklike gesin in die Government House (hedendaagse ‘Tuynhuys’) in Kaapstad gebly het, is daar skilderye van die plaaslike kunstenaars, Hugo Naudé en Jean Welz, spesiaal vir Tuynhuys geleen sodat dit daar uitgestal kon word. Die Hugo Naudé-Kunssentrum het ’n Namakwaland-toneel van Hugo Naudé geleen. Jean Welz het skilderye met ’n toneel van Overhex, ’n toneel by Altona wat oor Worcester kyk, en ’n stillewe met ’n avokado, ’n peer en ’n beker ook uitgestal. Laasgenoemde het in koningin Elizabeth (die Prinses-moeder) se slaapkamer gehang.
21 Februarie 1947: Die Wittrein vertrek uit Kaapstad
Nadat die koninklike gesin Kaapstad besigtig het, het hulle op ’n uitgebreide treintoer aanboord van die Wittrein deur Suider-Afrika vertrek. Die Wittrein was getrek deur ’n nuwe GEA North British-lokomotief. Sonder die lokomotief was die Wittrein 980 voet lank en het dit uit 14 waens bestaan. Van buite was die waens ligroom-kleurig met ’n goue streep rondom in die middel. Drie van die eerste vyf waens was gebruik deur amptenare, wie dan ook hul eie kombuis en eetsalon gehad het.Die sede wa was die koning se kamenier, sy sekretaris en ander lede van die koninklike personeel. Die volgende wa was vir die gebruik van die prinsesse. Vir elk was daar ’n slaapkamer met ’n private badkamer. Dan het die koning en koningin se waens gekom. Die vier groot slaapkamers van die koningsgesin het panele van kosbare Esdoring-, Kastaiing- en Mahoniehout bevat. Al die meubels was van Wilde Vyeboom- en Okkerneuthout. Die tapyte was alles met die hand gemaak. Alles in die badkamers was van groen porselein met metaal toebehore van chroom. Na die Koning se wa, was die sitkamerwa, met rusbanke en stinkhoutstoele wat met petit-point-tapisserie oorgetrek was. Hierna was die eetkamerwa met ’n stinkhouttafel van 30 voet lank. Dan was daar ook nog die koning se studeerkamer, wat twee telefone bevat het – een verbind met die res van die trein, en die ander met die buitewêreld. Vir daardie jare was ’n trein op ’n telefoon reg aan die voorpunt van die nuutste tegnologie en daar is baie daaroor berig.
Vrydag, 21 Februarie 1947: Oornag by Breërivierstasie
Op 21 Februarie 1947 het die Wittrein die nag op ’n sylyn, by Breërivierstasie, wes van Worcester oornag. Die Wittrein het op die sylyn afgetrek en vir die hele aand daar op die plaas, ‘Goedgeloof’ van meneer AJ van der Merwe gestaan. ’n Spoor-sylyn was spesiaal vir hierdie doel ses maande voor die tyd gebou. Vandag is die pragtige ou stasiegebou met sy Neo-Constantia-gewels (wat tot onlangs nog gestaan het), tot op die grond afgebreek. Daar was ook hoë neonligte aangebring, sodat die Wittrein daar vir die nag in ’n helder verligte terrein kon deurbring.
Van Der Merwe het die Koninklike gesin op sy plaas die wingerde gewys en vir die koning gesê hy voel aardig om hulle net hier in die wingerde rond te wys en hulle nie na sy huis te nooi nie, en dat die koninklike gesin ook in sy huis baie welkom sal wees. Die koning het geantwoord dat hy baie graag van die uitnodiging gebruik sal maak. Hulle het hierna reguit na die huis koers gevat. Nadat die besoekers eers ’n bietjie in die huis rondgestap het en onder meer in die kombuis ingeloer het, is hulle na die wynkelder, waar hulle ’n glas mos weggeslaan het. Koningin Elizabeth (die prinses-moeder) wou weet of sy sommer ’n hele glas mos kan drink, waaropVan Der Merwe haar die versekering gegee het dat een glas haar geen kwaad sou aandoen nie. Hy het egter bygevoeg dat hy haar nie sou aanraai om meer as een glas te drink nie. Van die kelder is hulle weer terug na die huis waar Mevrou Van Der Merwe boerebeskuit en koffie bedien het.
Hierna het die Wittrein die Breërivierstasie verlaat om na Worcester te kom. Voor die Wittrein het daar eers ’n loodstrein gery, waarop die administrateur van die Kaapprovinsie, JG Carinus, en mediabeamptes was.
Saterdag, 22 Februarie 1947 om 10:00: Aankoms in Worcester
Die Wittrein het op Saterdag, 22 Februarie 1947 om 10:00 die oggend in Worcester aangekom.
Volgens beskrywings in ’n ou Standard was die eerste siens van die koninklikes was waar hulle in die Wittrein se sitkamer gesien kon word, waar hulle, hulle handskoene vir oulaas verstel het. Hierna het die koning eerste van die trein afgeklim. Hierna het die koningin en die twee prinsesse uitgeklim. Die destydse minister van vervoerwese, Claude Sturrock, het die koninklike gesin aan die destydse LV vir Worcester, Piet de Wet, en die destydse burgemeester, Jan Theron, op Worcester-stasie voorgestel. Burgemeester Theron het as amptelike gasheer opgetree en in sy toespraak gepraat oor watter groot eer dit vir Worcester was om van baie plattelandse dorpe uitgesonder te word, vir ’n koninklike toer deur die dorp. Die destydse burgemeester van die dorp Worcester in Engeland, Walter Ampblett, het ’n brief aan burgemeester Theron gestuur om die susterstad se beste wense aan Worcester in Suid-Afrika oor te dra.
Saam op die stasie was daar ook elf plaaslike Britse ontruimde kinders van Rawsonville, wie Londonse weeskinders is wie tydens die oorlog se Blitzkrieg-fase uit London weggestuur is, om te keer dat hulle sterf.
Vandaar is die koninklike gesin in ’n oop afslaandakmotor met drie rye, deur Worcester se strate gery, sodat hulle die dorp en sy mense kon besigtig. Die koning en koningin het agter gesit en die twee prinsesse het in die middel gesit. Heelvoor het die drywer en groepkaptein, Peter Townsend gesit, wie later jare ’n verhouding met prinses Margaret sou gehad het, en met haar sou trou, maar die verhouding is afgebreek. Daar was ’n groot boog oor die pad by Worcester-stasie gebou wat met mooi proteas versier was.
Militêre veterane van die eerste en tweede wêreldoorloë het ’n erewag in die gedeelte tussen Worcester-stasie en Tulbaghstraat gevorm.
Van Worcester-stasie het die toer af in Tulbaghstraat beweeg, af in Napierstraat gedraai, op in Hoogstraat gedraai en tot by Baringstraat gery. Van Baringstraat het hulle toe om Kerkplein gery en af in Adderley- en Greystraat gery en na Nuwe Hoopskool vir Dowes gegaan. Hierna het die toer weer op in Grey- en Adderleystraat gegaan en af in Hoogstraat gedraai. Hierna het hulle op in Riebeeckstraat gegaan en met Kerkstraat af gery, al verby die KWV. Destyds het Smithstraat oor die treinspoor geloop en was De la Batskool se oorspronklike ingang, ’n oorgang vanaf Smithstraat (wat met Besselaarweg in Reuniepark verleng was – maar hierdie oorgang bestaan al vir jare nie meer nie). Die toer het by hierdie spooroorgang aan die bopunt van Kerkstraat na De la Batskool gegaan.
Die enigste plek in Worcester waar die koninklike toer sou stop, was by De la Batskool, maar hulle het egter nie daar opgehou nie. Die destydse skoolhoof, dr. Gawie de la Bat, se seun, Ritzema de la Bat van die Paarl, kan nog onthou hoe hy as 11-jarige seun op die eetsaal se trappies gestaan en waai het, terwyl hulle stadig deur die skoolgronde gery het. Volgens hom, was die koninklikes blykbaar eers verbaas dat dit so stil is, totdat hulle besef het, dat dit ’n Skool vir Dowes is, en toe het hulle breed geglimlag.
Van hier het die toer af in De la Batweg beweeg, af in Rouxweg, en by Riebeeckstraat oor die spoorlyn gegaan, af en Kerkstraat, weer terug Worcester-stasie toe. Teen 11:30 was die Toer verby. Worcester-stasie was so mooi opgemaak en versier dat die koning en koningin spesiaal gevra het om die stasiemeester, HJ du Plessis, te ontmoet, sodat hulle hom persoonlik kon bedank. Voordat hulle weer op die trein geklim het, het die koningspaar vir burgemeester Theron hartlik vir alles bedank en vir hom ’n getekende foto van hulself oorhandig. Die skare het drie hoera’s geskree en almal het terug op die trein geklim. Die laaste siens van hulle was toe die koningin ’n rooi angelier uit ’n ruiker geneem het.
Nadat die koninklikes weer terug op die Wittrein is en Worcester weer verlaat het, het al die hooggeplaastes en burgemeesters van ander dorpe wie by die reëlings betrokke was ’n amptelike banket in die Masonic Hotel bygewoon. Hierdie Hotel het by die Hoog- en Stockenströmstraatkruising gestaan, daar waar PEP vandag is.
’n Groot eer het vier plaaslike spoorwegamptenare te beurt geval, toe T Connell en J Hanekom die Wittrein van Worcester tot by Riversdal gery het en toe A Meyerdricks van Durbanstraat en A Kruger as stokers opgetree het. Connell en Meyerdircks het die geleentheid gekry om die twee prinsesse te ontmoet en hulle het hulle hartlik vir die rit bedank.
’n Groot eer het ook vir die vier seuns van TJO Surmon, ’n plaaslike spoorweginspekteur van Worcester, te beurt geval toe al vier sy seuns in die Royal Guards of Honour tydens die toer gedien het. Die twee oudste seuns, Alfred en Thomas Surmon, was deel van die erewag tydens die opening van die prinses Elizabeth-Droogdok in Oos-London. William, die derde oudste seun, was deel van die Government House Guard by Tuynhuys, en die jongste, Albert Surmon, was die bevelvoerder van ’n kadetafdeling in die Kaapse hawe, met die aankoms van die HMS Vanguard-skip.
Saterdag, 22 Februarie 1947 om 11:30: Trein vertrek
Die Wittrein het Worcester weer op Saterdag, 22 Februarie 1947 om 11:30 verlaat.
Volgens ’n ou berig in Standard word daar gereken dat tot ’n duisend motors die heelpad tussen Worcester en Robertson die Wittrein agtervolg het.
Op Robertson het die Wittrein weer gestop en die koninklike gesin het daar uitgeklim en almal op die Robertsonstasie gegroet. Die burgemeester van Robertson het groot ruikers blomme aan koningin Elizabeth en die twee prinsesse oorhandig.
Aangesien die Wittrein slegs vir 15 minute op Robertson-stasie gestop het, was daar intense opwinding onder die skare om die koninklikes te sien. In almal se gretigheid om die koninklikes te groet het die skare op die Robertson-stasie omtrent vuisgeslaan om ’n kyk te kry en in die proses het vyf dames flou geword.
Oorkant Robertson-stasie se perron is 21 palmbome geplant vir prinses Elizabeth se 21ste-verjaarsdag wat oor ’n paar weke op 21 April sou wees. Vandag staan daar nog 15 van daardie palmbome, en kan ’n mens hulle duidelik sien as jy met Voortrekkerweg deur Robertson ry.
Koningin Elizabeth het met die skare gepraat, en sy wou by een van die dames, wie ’n baba by haar geweet het, gevra; “Is the sun not too hot for your baby?” Een ouerige dame het haar hand na die Koning uitgesteek en gesê; “Dag my Koning.”
Van Robertson is die Wittrein na Ashton, Swellendam, Buffeljags, Heidelberg en Riversdal, waar daar ook orals gestop is om almal op die stasies te groet.
19 April 1947: Wittrein se terugtog deur die Breedevallei
Op 19 April 1947 – ’n week voor prinses Elizabeth se 21ste verjaarsdag is die Wittrein van die noorde weer deur Worcester terug Kaap toe. By Touwsrivier en De Doorns het die trein gestop. ’n Plaaslike boer, Wattie Meiring van Meiringshoop in die Bo-Hexvallei het ’n kissie druiwe aan die koningspaar present gegee. Die volgende dag is daar ’n brief deur die koning se Naval Equerry (vlootstalmeester) op die Wittrein se poskantoor gepos om vir Meiring te bedank. Hierdie brief is vandag in sy kleinkind, raadslid Wouter Meiring, se besit.
Iewers na 1947: Geskenk van die koningsgesin
Iewers na afloop van die koninklike besoek aan Worcester het koning George VI ’n baie spesiale geskenk aan Worcester se inwoners gestuur om dankie te sê vir hoe gasvry die koningsgesin op Worcester ontvang is. Dit was ’n paar swane wat van Pall Mall, by Buckingham-Paleis, af kom, en wat spesiaal gevang is en aan Worcester se burgemeester as blyk van waardering gestuur is. Hierdie swane was gevolglik by Joubertdam (die ou historiese eerste dam van Worcester van 1875 langs die Brandweerbrug) gehou. Joubertdam was spesiaal met draad toegekamp, sodat die swane nie onnodig gepla kon word nie. Die swane was jare ’n groot toeriste-aantrekking en ’n plaaslike inwoner, Christa Botha van Slow Living-restaurant in Kerkstraat, sê dat sy nog goed die swane by dié dam van haar kinderjare, toe sy vyf jaar oud was, kan onthou. Nugter alleen sal weet wat van die swane se afstammelinge in later jare geword het, en dit is tragies om te dink dat daar vandag niks meer van hierdie historiese swane se afstammelinge te sien is nie, want dit sou ’n groot toeriste-trekpleister gewees het.
1990’s: Historiese Daimlers op Matjiesfontein
In die 1990’s het David Rawdon, die befaamde eienaar van Matjiesfontein, twee Daimler-voertuie wat in 1947 gebruik is, bekom en by Matjiesfontein uitgestal, waar hulle vandag nog in Breedevallei se buurmunisipaliteit te sien is.
1999: Getekende ‘Presentation Portrait’
In 1999 was daar weer ’n verbintenis, nadat koningin Elizabeth II vir Julian Kritzinger ’n getekende ‘presentation portrait’ van haarself gestuur het, nadat hy as 16-jarige skoolseun vir haar geskryf het om haar handtekening te vra. Dit is uiters selde, en slegs met die hoogste uitsondering, wat ’n Britse koninklike hulle handtekening aan ’n gewone persoon op versoek sal gee. Hierdie seldsame insident was in ’n artikel in Rapport in 2001 oor geskryf.
2004: Historiese stoomlokomotief kom na Breedevallei
Vandag tussen Worcester en Robertson, by Vinkriviersylyn, staan die Gospel Express-stoomtrein met sy ou passasierstrokke. SAR Klas 15CA – Nommer 2828, ’n North British Locomotive Company-lokomotief wat in 1929 gebou is en wat ook ’n Wittrein-konneksie het. Hierdie spesifieke lokomotief is op ou foto’s te sien waar sy die Wittrein vanaf Witbank na Pretoria help bank (‘van agter-af stoot) het, en waar sy Pretoria-stasie op 29 Maart 1947 inkom. Nadat hierdie lokomotief vir jare by Dal Josafat staan en oproes het, is sy in ongeveer 2004 deur ds Adriaan Kuiper gered en na Vinkrivier gebring. Hier is dus nog ’n interessante koninklike konneksie in ’n buurmunisipaliteit.
Hierdie berig is geskep deur inligting wat deur raadslid Dr. Julian Kritzinger versamel is.





