Die gemeenskap van Wolseley is bekommerd oor die gehalte van polisiëring weens ’n vermeende gebrek aan hulpbronne in die gebied.
Standard het verlede jaar berig oor Wolseley-polisie se uitdagings en die behoefte vir die aanstelling van meer polisiebeamptes.
“Ons het in 2022 net een nuwe beampte gekry. Ek verlang na meer. My droom is dat hier sommer nog 16 kan begin werk. Die probleem wat dinge bemoeilik, is die feit dat almal wat skofte werk nie vuurwapens kan dra nie. Dit skep ’n groot probleem,” het die stasiebevelvoerder, kapt. Donald Farao, aan Standard verduidelik.
Bekommerde en ontevrede inwoners wat gesamentlik ’n skrywe aan Standard gerig het, meen egter dat Wolseley nou ’n speelplek geword het vir misdadigers om in te baljaar.
“Ons is baie ontevrede oor die stand van sake en oor watter misdadige aktiwiteite heers onder die leiding van die huidige stasiebevelvoerder. Wolseley se polisiekantoor word telkemale gesluit as beamptes na tonele moet uitgaan weens die tekort aan personeel,” lees die brief.
Die brief verduidelik verder dat klagtes aangemeld word by die polisiekantoor oor smokkelary en ander ernstige misdade, maar dit vir inwoners voel of sekere sake net nooit opgevolg word nie en of die stasiebevelvoerder dalk sekere van die sake self hanteer en die meriete daarvan bepaal.
“Dit voel of smokkelaars soms beskerm word,” lui die brief.
Kapt. Farao wou ook nie veel verder uitbrei oor die gemeenskap se griewe nie.
“In hierdie stadium weerhou ek enige kommentaar aangesien ek die onderwerp van hierdie brief is. Ek sal egter enige ondersoek na die bewerings aanmoedig,” sê Farao.
Dianna Julies, ’n inwoner van Pine Valley, vertel aan Standard hulle is bang om langer in die gebied te woon.
“Daar was laasjaar hoeveel moorde om my. In die aande, veral tydens beurtkrag, is dit donker en die misdadigers kriewel hier tussen ons. Jy weet nooit of jy of een van jou kinders dalk die teiken gaan wees van ander se dade nie,” vertel sy.
Julies voeg by dat sy party aande geen polisiebeamptes sien wat patrollie ry nie en sy wens dat meer sigbare polisiëring sal geskied.
Kapt. Farao het verlede jaar aan Standard gesê dat die polisie kyk na die misdaad-brandpunte sodat hulle beter voorbereid kan wees en dat meer beamptes sy taak sal vergemaklik.
Vyf beamptes van die Witzenberg-streek, van wie sommiges ook by die polisiekantoor werk, is verlede jaar in hegtenis geneem op aanklagte van onder meer korrupsie en aanranding. Die saak is later laat vaar en die beamptes is vrygelaat.
“Hierdie streek is dalk uniek, maar hier is uitdagings en baie politiek. Onskuldige mense moet soms skade ly weens ander se agenda en dit is wat hier gebeur het. Beamptes wat hul werk doen, word uitgekryt as korrup, maar misdadigers kom met allerhande onderduimse aktiwiteite weg,” het ’n gesaghebbende bron in die binnekring aan Standard vertel.
In die brief verduidelik die bekommerde inwoners ook dat daar ’n petisielys vir die beskikbaarstelling van die beamptes saamgestel is.
“Ons het dit saamgestel, want daar is reeds ’n behoefte aan beamptes om skofte te werk. Skofte waarby hulle kan inskakel en hul deel kan doen.”
Standard het verskeie navrae aan die provinsiale polisiekantore gerig oor hierdie aangeleentheid. Oproepe, WhatsApp-boodskappe en e-posse is ná bykans ’n maand steeds onbeantwoord.
Die provinsiale kommunikasiebeampte, kol. André Traut, het in ’n vorige kommunikasie genoem dat die aanstelling van meer beamptes by die Wolseley-polisiekantoor ’n prioriteit is en dat die proses aandag geniet.
Paarl Post het einde verlede jaar berig oor bykans 10 000 nuwe polisiebeamptes wat hul opleiding geslaag en uitpasseer het.
Dit is onseker of enige aanstellings al intussen gedoen is.
Gemeenskapslede rig ook ’n versoek dat daar na die werksomstandighede en belange van die beamptes omgesien moet word en die nodige traumaberading in plek gestel moet word aangesien hulle met verskeie traumatiese situasies te doen kry.




