Verskeie inwoners van Wolseley het melding gemaak van hul bekommernis oor die toename in geweld in die dorp.
Kapt. Donald Farao, die Wolseley-polisie se bevelvoerder, sê egter dit is meestal bakleiery en aanrandings wat voortduur. Drie moorde is sedert Oktober aangemeld.
“Voor dit het ons in Julie laas ’n moord gehad. Ek weet ook dat baie skietvoorvalle in die Pine Valley- informele nedersetting aangemeld word – veral tydens beurtkrag,” sê hy.
Die jongste moord was Sondag 4 Desember in Pine Valley.
“Inwoners het ons gebel en gesê hulle hoor skote tydens beurtkrag. Hulle kon natuurlik niks sien nie en het die ligging van waar die skote vandaan gekom het, verduidelik. Toe ons daar kom, het ons ’n man met ’n skietwond in die kop gekry,” sê Farao.
Verder sê hy die polisie vra inwoners moet na vore kom en inligting met die polisie deel oor wie almal in besit van vuurwapens – wettig of onwettig – is.
“Dit sal ons geweldig baie help. Hulle hoef nie hul name vir ons te gee nie; die proses bly anoniem.”
Farao het ook gesê die polisie kyk na die misdaad-brandpunte sodat hulle beter voorbereid kan wees.
“Sedert verlede Vrydag het ons ander eenhede ingekry om ons te help. Met hul hulp vorder ons goed om die misdaadbrandpunte uit te ken.”
Verder voeg Farao by hy verlang steeds daarna om meer beamptes by die Wolseley-polisiekantoor te hê.
“Ons het hierdie jaar net een nuwe beampte. Ek verlang na meer. My droom is dat hier nog 16 kan begin werk. Die probleem wat dinge bemoeilik, is die feit dat almal wat skofte werk, nie vuurwapens kan dra nie. Byvoorbeeld, elke skof het vyf beamptes, en in een van dié spanne is ’n skof waar net twee beamptes gemagtig is om vuurwapens te dra, en nou gaan een van daai manne op verlof. Dit skep ’n groot probleem.”
Volgens kol. Andrè Traut, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, word aandag gegee aan meer personeel vir die Wolseley-polisiekantoor.
“Die toewysing van menslike hulpbronne vir die Wolseley-polisiekantoor geniet die nodige aandag en die ontplooiing van bykomende personeel is aan die gang,” het Traut gesê. . Farao vra ook dat inwoners met enige geldige inligting oor misdaad, soos skietery, of kwaaddoeners die sigbarepolisiëringeenheid by 082 411 3057 of die polisiekantoor by 023 231 8000 skakel.


