Met die rugbyseisoen in volle gang en verskeie groot derbies wat nog in die Esselenpark-stadion in Worcester gespeel gaan word, kan baie groot getalle toeskouers van oor die Boland heen en nog verder hier verwag word.

Dus word kommer uitgespreek oor hierdie geliefde stadion van ouds, wat jaarliks al hoe meer vervalle raak weens ’n gebrek aan instandhouding en opknapping.

By die jaarlikste derby-wedstryd tussen Young Hamiltons en Villagers Worcester binnekort kan tot 20 000 mense hiér verwag word. Tans is daar slegs ’n hoofpawiljoen, wat sitplek vir slegs sowat 900 mense het, dan moet ander toeskouers tevrede wees met die graswalle. En indien dit sou reën, soos nou die norm is, sal die graswalle alleen groot ongemak skep.

Rugbylui voer ook aan dat daar geen oop pawiljoene of enige ander sitplekgeriewe beskikbaar is nie en hulle voel dit is ’n klap in die gesig vir die twee klubs en hul duisende ondersteuners.

Die stadion is in 1996 laas opgeknap voor die Boland vs All Black-wedstryd wat deur 22 000 toeskouers bygewoon is. Die oop pawiljoene is ná 2015 se derby in Esselenpark-stadion verwyder nadat een daarvan met ’n groep toeskouers op meegegee het en talle mense beseer is.

Dit is nooit vervang nie.

Plaaslike rugbylui is van mening ’n volwaardige stadion wat aan internasionale standaarde voldoen, is hier nodig.

In antwoord op hierdie klagtes het Hannelie Botha, ’n woorvoerder van die Breedevallei Munisipaliteit (BWM), onder wie se betuur die Esselenpark-stadion val, gesê alle sport-infrastruktuur word hanteer op grond van die sportmeesterplan wat deur die raad goedgekeur word/is. Alle kapitale verbeterings word in hierdie plan uiteengesit.

“ ’n Mens moet in gedagte hou dat daar vele sportsoorte en -fasiliteite in die BVM is waaraan aandag gegee moet word. So is daar byvoorbeeld die swembad in Zwelethemba wat baie beplanning geverg het, maar wel uiteindelik gebou kon word.

“Op die bogenoemde plan vir Esselenpark spesifiek is eerstens dat die omheiningsmuur vervang moet word, en R9,15 miljoen is hiervoor begroot. Die bedrag wat tot op hede bestee is, beloop R1,13 miljoen.

“Die rasionaal agter die besluit om eers die omheining te vervang, is sodat enige toekomstige opknappings beter teen vandalisme en diefstal beskerm kan word. Dieselfde gaan met Bolandpark en ander stadions in die BVM gedoen word. Die projek by die Esselen Park-omheining het veertien dae gelede begin.

“Die kontrakteur werk antikloksgewys en vervang die huidige sinkplate met swaardiensbetonblaaie met die eerste 72 meter wat nou voltooi is.

“Die laaste fase is die opknapping van die hoofhek met nuwe draaihekke en toegangshekke, ensovoorts. Hierdie projek behoort binne die volgende twintig weke voltooi te wees.

“Sommige van die opknappings wat vir ander, kleiner sportvelde beplan word, word gedeeltelik deur eie (BVM) en die Munisipale Infrastruktuurfonds gefinansier.

“So word ongeveer R1,57 miljoen begroot om in die 2024-’25-boekjaar verbeterings aan te bring by die Rawsonville-sportterrein en R2,37 miljoen vir die Fanie Otto-sportterrein in De Doorns.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article