Lus vir ’n avontuur wat jou liggaam en gees sal verryk en terselfdertyd die magies van honger kinders sal voed? Sluit dan die somer af en berei jou voor vir die Camino van die Sandsteenkerke.
Hierdie unieke pelgrimstog neem jou deur die hart van die Klein-Karoo se natuurskoon en historiese sandsteenkerke terwyl jy ’n reis na jou eie binnelandskap aandurf. Jy kan dié pragtige staproete oor 120 km van 25 April tot 2 Mei saam met die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, Hannes Noëth, en die Klein-Karoo-Camino-span aandurf.
Die doel is nie net om ’n geestelike en fisieke uitdaging te bied nie, maar ook om geld vir Helpende Hand se Kosblikkie-projek, wat daagliks meer as 8 000 kleuters voed, in te samel.
“Ons trek in Oudtshoorn weg en stap al met die agterpaaie langs verby plase in pragtige natuurskoon. Die roete word oor nege dae aangebied. Die daaglikse stapafstande wissel tussen 14 km en 29 km,” sê Ockie Cloete, die direkteur van die Klein-Karoo-Camino.
“Ons besoek onder meer die Rooms-Katolieke kerk se uitbeelding van die lydensweg, stap verby olyfboorde en leer meer oor die maak van olyfolie. Een rusdag op ’n plaas is ingesluit wanneer jy in die plaasdam kan swem, kan ontspan of van die kort roetes op die plaas kan gaan stap.”
Cloete sê ’n Bybelse tuin gee tyd vir besinning terwyl die natuurskoon en die unieke fynbos in die omgewing deurentyd bekoor.
Terug in Oudtshoorn gaan die groep indrukwekkende kerkgeboue besoek, waaronder ’n katedraal en sinagoge.
“Saam met Noëth glo ons dat hierdie ervaring verrykend sal wees en dat jy geïnspireer sal voel om jou lewenspad sinvol verder te stap. Terselfdertyd ondersteun ons ook Helpende Hand se Kosblikkie-projek en streef om ’n verskil te maak,” sê Cloete.
. Stuur e-pos na Klein-Karoo Camino by operations@kleinkaroocamino.co.za vir nog inligting.





