“Kom gesels met ons as jy dink ons oortree die reëls,” sê Worcester se taxibestuurders.
Taxibestuurders het Standard gekontak om hul kant van die saak te stel ná verlede week (“Sonde met die taxi’s”) se berig oor inwoners wat moeg is vir taxibestuurders wat padreëls in Avianpark en die dorp verontagsaam.
Volgens Stanley Amsterdam van die Worcester United-taxivereniging moet inwoners verstaan dat ’n “taxi ’n besigheid op wiele is”. Hy sê taxibestuurders word dikwels die “vyande in die verhaal” gemaak weens negatiewe beriggewing en nuus in die land.
Hy sê hy is bewus van bestuurders wat soms padreëls verontagsaam en sê hulle word getugtig indien hulle verkeerd doen.
Amsterdam het vantevore die verkeersdepartement genader en gevra om wetstoepassers uit te stuur om die paaie te beveilig vir taxibestuurders, motoriste en voetgangers. Hy het ook die verkeersdepartement en munisipaliteit genader om toegewyde op- en aflaaipunte vir taxi’s te skep, sê hy.
Volgens Amsterdam is ’n gebrek aan amptelike stilhouplekke vir taxi’s dit wat taxibestuurders soms noop om dadelik te stop as hulle iemand sien wat van hul diens gebruik wil maak.
“Mense moet besef elke R10 is ’n inkomste vir ons. Ons maak glad nie verskoning vir sekere bestuurders se gedrag op die pad nie, maar dit is hoekom die publiek ons in kennis moet stel van sulke gebeure.
“Laat weet vir ons sodat ons die bestuurders kan dissiplineer, sodat hulle die reëls nakom.”
Amsterdam sê mense moet die regte kanale volg as hulle klagtes het.
“Hulle kan gebruik maak van die nommers agterop die taxi’s as hulle ongelukkig of gelukkig is oor ons diens.”
John Vergotini, ondervoorsitter van die vereniging, sê taxibestuurders is tans besig met onderskeidelik die Blue Dot- en Red Dot-projek.
Die twee projekte help om seker te maak taxibestuurders kom die padreëls na omdat daar ’n nasporingstelsel vir die taxi’s is.
Volgens Mervin September, wat verantwoordelik is vir dissipline in die vereniging, is dit dikwels diegene wat nie gebruik maak van taxi’s nie wat die meeste klagtes het.
Hy sê taxibestuurders moenie almal oor dieselfde kam geskeer word nie. “Laat weet vir ons wie die reëls oortree, sodat ons daardie bestuurders kan tugtig.”
Die vereniging spreek sy hoop uit dat die publiek en die taxi-gemeenskap ’n oop verhouding met mekaar sal hê.
Mense kan die Worcester United-taxivereniging se kantoor by 073 782 5265 skakel as hulle griewe het oor taxi’s en taxibestuurders.
Die kantoor is by Greystraat 4 Cgeleë en is daagliks van 08:00 tot 17:00 oop.





