Worcester Gimnasium, in samewerking met Cape E-Waste, sal op 10 September ’n e-afval-veldtog by die skool hou.
Alle ou/stukkende elektroniese toerusting en toestelle kan dan by Worcester Gimnasium afgegee word.
E-afval, of elektroniese afval, verwys na enige elektroniese of elektriese toerusting wat nie meer werk of gebruik word nie. Dit sluit in goed soos kabels, staal, aluminium, rekenaars, selfone, televisiestelle of -skerms en ander huishoudelike toestelle. Die verantwoordelike wegdoening van hierdie produkte is van kardinale belang om die omgewing te beskerm en hulpbronne te bewaar.
Cape E-Waste Recyclers, met sy hoofkantoor in Brackenfell, het die afgelope nege jaar in die herwinning van elektroniese afval gespesialiseer, en nou het hy ’n vennootskap met Worcester Gimnasium aangegaan om sy eerste amptelike insamelingsdag in dié gebied te hou. Die doel van hierdie inisiatief is om meer bewustheid in die gemeenskap te skep oor die belangrikheid van e-afval en herwinning.
Die insamelingspan sal op 10 September tussen 09:00 en 12:00 by Worcester Gimnasium wees om elektroniese afval op te laai. Dié geleentheid bied die gemeenskap die kans om op ’n verantwoordelike manier met hul ongewenste elektroniese toerusting weg te doen.
Die herwinning van e-afval help om skadelike stowwe uit die omgewing te hou en waardevolle materiale, wat weer gebruik kan word, te herwin.
Dit is ’n belangrike stap in die rigting van ’n meer volhoubare toekoms.
Alkaliese batterye en fluoresserende ligbuise val nié onder die e-afval-afdeling nie en moet elders gestort word.
Kom ondersteun dié inisiatief en help om ’n verskil te maak!





