Mark Wayne is oor Paasnaweek in aksie te sien. Foto:


Worcesteriete kan daarna uitsien om oor die Paasnaweek deur een van die dorp se talentvolle boorlinge vermaak te word.

Mark Wayne het altyd geweet hy kan sing, maar het nooit ’n groot ding daarvan gemaak nie en ook nie gedink hy kan sang as ’n voltydse loopbaan kies nie – totdat hy ’n gulde geleentheid aangebied is.

“Ek was jare lank in die onderwys. En in 2023, terwyl ek by ’n skool in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte was, het ek by ’n vriendin gaan kuier. Daar het sy my vertel van haar bure oorkant die pad wat sangers soek en sy moedig my toe aan om ’n oudisie te gaan doen.”

Hy is amper onmiddellik ’n werk aangebied.

“Hulle het gehou van hoe ek sing en het my ’n werksgeleentheid aangebied, maar ek moes Spanje toe gaan. Ek het gesukkel om die besluit te neem. Ek wou ook nie my ouers teleurstel nie. Ek het ook met die hoof by die skool waar ek was, gepraat. Hy het gesê ek is nog jonk en moet die geleentheid aangryp. En dis presies wat ek gedoen het. My ma-hulle was nie so gelukkig oor my besluit nie.”

Hy het vir vyf jaar ses maande van die jaar in Spanje in hotelle gesing en dan weer ’n paar maande by die huis deurgebring en sy dokumentasie bygewerk voordat hy weer vertrek het.

“In die vyfde jaar het ek besluit ek bly aan in Spanje. Toe ek jonger was, het ek nooit gedink dat ek hierdie as ’n loopbaankeuse kon beskou nie. Ek was baie skaam op skool en het nie eens aan talentkompetisies deelgeneem nie.”

Wayne het selfs in 2018 sy eie liedjie vrygestel. “Met my eerste liedjie het ek ongelukkig nie baie aandag gekry nie. Later daardie jaar het ek nog ’n liedjie vrygestel, wat ek eintlik vir my troue geskryf het. Dit het darem toe aandag gekry. Dit was nadat ek aan The Voice in Spanje deelgeneem het. Ek het toe ook met ’n musiekvervaardiger van die Kaap begin werk en sedertdien het ek drie nommer-een-liedjies op Suid-Afrikaanse radiostasies gehad.”

Hy beskryf sy musiekstyl as pop dance, maar wanneer hy in sy professionele hoedanigheid by hotelle optree, sing hy uit meer genres.

Worcesteriete sal oor Paasnaweek Wayne se bekoorlike stem by die Golden Valley Casino kan hoor.. Kontak Natasha Africa by 082 335 2313 vir meer inligting en om kaartjies te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article