Die Kokerboom-restaurant het sy deure op 31 Januarie amptelik gesluit.
Louis de Bruin het die restaurant vier jaar gelede geopen.
“Die restaurant het op ’n heel onverwagte manier in ons lewe gekom. Ek en my man was hier by die kwekery en toe vra ons maar hoekom staan die restaurant dan toe. Ons is ingelig dat hy oop is vir tender. Ons het toe getender en dit gekry,” verduidelik De Bruin.
Voorts sê sy die afgelope vier jaar was die moeite werd, maar erken dit was ’n emosionele besluit om toe te maak.
“Dit het begin moeilik raak om my personeel te betaal, om hulle in die gesig te kyk en te weet ons sukkel. Die besluit om die restaurant toe te maak, was emosioneel, maar ek is nou kalm nadat ek deur al die fases van woede en kwaad is. Ek weet die Here het ’n plan vir my.”
Natuurlik het die wêreldwye Covid-19-pandemie en nasionale inperking asook beurtkrag daartoe bygedra dat die restaurant moes sluit.
Tans is sy besig om alles van die restaurant te verkoop. Van die items kan op die restaurant se Facebook-blad, “Kokerboom restaurant and cocktail bar”, gesien word.
De Bruin stel voor mense bel eers as hulle in iets belangstel want soms verkoop die items in ’n oogwink.
Op die vraag of sy ooit weer ’n restaurant sal open, het sy met die volgende geantwoord: “Ek sal dit weer doen as ek meer kennis het. Toe ek hierdie restaurant geopen het, het ek geen kennis van hierdie bedryf gehad nie.
“Maar nou weet ek baie meer. Dit was gewis die moeite werd.”
Oor haar toekom is sy nog onseker, maar sê sy sien daarna uit.
“Dit is alles in die Here se hande. Ek is opgewonde oor my toekoms. Ek is besig om my CV reg te kry en sal dit begin uitstuur sodra ek alles hier by die restaurant afgehandel het. Ek bid dat die Here my iets lekkers sal bring. Hy is nou in beheer,” meen De Bruin.




