Bekroonde produksies, werksessies en musiekproduksies word by die Kalfiefees aangebied.


Die 24ste Hermanus-Kalfiefees vind weer van 1 tot 11 Augustus plaas.

Feesgangers kan oudergewoonte uitsien na iets vir elke smaak – van drama en komedie tot musiek, dans, kinderteater, boekbesprekings, kuns én leefstyl.

Die fees lok elke jaar bekendes en vanjaar is geen uitsondering nie. Met legendariese ikone tot van Suid-Afrika se blinkste nuwe sterre, kan feesgangers uitsien na sterre soos Sandra Prinsloo, Tobie Cronjé, Deon Meyer, Elzabé Zietsman, Neil Sandilands, Frazer Barry, Lyntjie Jaars, Schalk Joubert, Jak de Priester, Amanda Strydom, Jannie du Toit, Daniel Anderson, Mel die storieverteller, Lara Hattingh, Jeremeo le Cordeur, Dean Smith, Ignatius van Heerden en baie ander.

Vir die Kalfiefees-komitee gaan dit nie net oor die fees self nie, maar ook om in die gemeenskap terug te ploeg.

Die fees is sedert 2023 by StoryTeam en The Cave Theatre in die Ou Hawe-museum in Hermanus betrokke, wat ’n ruimte skep vir jong akteurs om hul vaardighede te ontwikkel. Vanjaar sal wins uit kaartjieverkope aangewend word om hierdie kreatiewe ruimte verder te verbeter en nog meer talent te ontwikkel.

Die Kalfiefees bied aan plaaslike skole die geleentheid om hul eie produksies aan te bied en gee kinders en studente ’n kans om in professionele vertonings op te tree. Feesgangers kan vanjaar na die skoolproduksies Skaakmat en (Oor)Vloed uitsien, in samewerking met Creative Space Hawston, die Catapult Foundation en Pierre & Pauli Productions, asook Star Search Overstrand.

Die opbrengs van die Kalfiefees se boekbekendstellings ondersteun ’n projek in Zwelihle en Mount Pleasant, waar vrywilligers weekliks aan kinders voorlees asook die fees se skooltas- en skryfbehoefteprojek vir behoeftige graad 1-leerders deur aan die begin van elke jaar ’n verskil in hul lewe te maak.

Besoekers aan vanjaar se Kalfiefees kan aan ’n groot verskeidenheid kreatiewe slypskole deelneem.

By De Pottebakker kan jy van porseleinoorbelle, knyppotte, botaniese fossielteëls tot huisnommerteëls skep. Werksessies vir waterverf, bloudrukwerk, houtskooltekeninge, gemengde media en abstrakte kuns word in die kunsafdeling aangebied.

Neurografie, sosiale media vir kunstenaars, ’n juweliersware-slypskool, hoed-/tekkie-/denim-versiering en die skep van meesterlike koekies met ’n see-tema is ook op die spyskaart.. Kaartjies vir alle vertonings, werksessies en uitstallings is op die aanlyn platform Tixsa by https://tickets.tixsa.co.za/events/32614 te koop. . Skakel 012 880 2635 of stuur e-pos na support@tixsa.co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article