Kapt. Ronelle Alberts het weer eens ’n oorwinning losgeskiet. Foto:

Credit: SYSTEM

Kapt. Ronelle Alberts van die Worcester-polisie is weer eens as wenner gekroon – hierdie keer by die provinsiale aanvalsgeweer-kampioenskap in KwaZulu-Natal.

Alberts en talle ander is genooi om aan die kompetisie deel te neem.

Dié polisiekaptein het 19 jaar gelede mededingend begin skiet nadat haar kollegas gesien het hoe goed sy daarin is en voorgestel het sy moet by die aanvalsgeweervereniging aansluit.

Sedertdien ryg sy aanhoudend pryse en topprestasies in.

Sy het haar Protea-kleure in hierdie sport in Augustus verlede jaar verwerf.

Alberts het in die kompetisie, wat 28 en 29 April in Ladismith beslis is, teen 133 ander skuts meegeding – mans- sowel as vroue-skieters.

“Ek het algeheel eerste in die kompetisie geëindig. Ek dink ek het myself goed bewys, maar ek was nogal verras toe ek gewen het. Ek weet ek het my beste in die kompetisie gegee en voel regtig goed daaroor,” sê Alberts.

Die naaswenner in die kompetisie het 18 punte minder as Alberts gekry.

Alberts, wat ’n sektorbestuurder vir die Worcester-polisie is, is saam met talle van die ander goeie skuts na die provinsiale kompetisie genooi.

“Die onderskeie provinsiale kompetisies stuur ’n uitnodiging aan die skuts in die land wat kan deelneem, dan moet jy self besluit of jy aan die kompetisie wil deelneem.”

Hierdie skerpskutter-kompetisies is oop vir lede van die Suid-Afrikaanse polisiediens, die weermag, korrektiewe dienste asook private deelnemers.

Toe Standard in Augustus ’n onderhoud met Alberts gevoer het, het sy gesê hierdie sport verskaf haar baie genot.

“Dit is ’n lekker afleiding en ’n manier om van stres ontslae te raak. Die sport verg baie konsentrasie, en wanneer jy skiet, moet jy alles afsny en konsentreer op wat jy doen. Daar is ook baie kameraadskap, so jy is ook nooit op jou eie nie,” het sy destyds aan Standard gesê.

Sy was verlede jaar die enigste vrouelid van die Proteaspan nadat daar jare laas vrouelede was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article