Faseega Solomon, die visepresident van Sadou, oorhandig die speletjie aan Pionierskool se hoof, Micheal Bredenkamp. Foto: Tamsyn Jantjies


Om die digitale verdeeldheid te oorbrug deur kodering meer inklusief te maak vir siggestremde jeug oor Suid-Afrika heen, is die fokus van ’n nuwe nasionale opvoedkundige projek.

Bona Africa (’n vennootskap tussen Tangible Africa en Bona uBuntu) in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) lei onderwysers van skole vir siggestremdes in al nege provinsies op tydens ’n reeks van 16 werksessies.

Tydens hierdie werksessies word die onderwysers toegerus met taktiese gereedskap en die TANKS-kodering-toepassing om leerders aan die wonderlike wêreld van kodering bekend te stel.

Faseega Solomon, die visepresident van Sadou, verwelkom die geleentheid om weer saam met Tangible Africa aan hierdie baie waardige projek te werk.

“Die vermoë van die Tangible Africa-fasiliteerders om kennis en vaardighede op ’n innemende en interaktiewe wyse oor te dra, is baie deur Sadou-onderwysers wat reeds die opleidingsessies bygewoon het, waardeer. Die opleiding was inhoudryk, boeiend, prakties en pret. Onderwysers het ná die opleiding aangedui hulle voel selfversekerd en is opgewonde om kodering aan hul blinde en siggestremde leerders met behulp van die gespesialiseerde aangepaste stelle te leer,” het Solomon gesê.

Bona uBuntu se program­koördineerder, Robyn Fick, en haar span het maniere ondersoek om die TANKS-toepassing in ’n ten volle toeganklike speletjie vir blinde sowel as swaksiende kinders om te skep.

“Vir die blinde leerders was dit duidelik dat die merkers wat vir die TANKS-koderingspeletjie gebruik word, tasbaar moes wees en braille moes insluit, terwyl die koderingsuitdagings op die foon konkreet en tasbaar gemaak moes word.

“Ons het saam met Jonathan Kruger van Craft3D gewerk om 3D- gedrukte tasbare weergawes van elke vlak te ontwikkel en te skep,” het Fick gesê.

Vir die swaksiende leerders was die klem op kontras, kleur en grootte, wat hulle in staat sou stel om hul oorblywende visie te gebruik om te speel, het Fick gesê.

Verdere ondersteunende materiaal is aangepas om toeganklikheid vir almal te verseker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article