Die NGK in Worcester-Noord se klok lui weer. Foto:

Credit: SYSTEM

Ná maande van stilte lui die NGK Worcester-Noord se kerkklok weer.

’n Meganisme in die kloktoring het verlede jaar in April vermoedelik as gevolg van beurtkrag iets gedoen wat dit nie moes doen nie, en dit het daartoe gelei dat die klok nie meer outomaties gelui het nie. Die toring huisves ook ’n horlosie, en dit het ook opgehou werk.

“Die elektriese motor wat die kabels reguleer om die horlosie te laat werk en die klok laat lui, het net ophou werk,” verduidelik Herman Kellerman van die kerk.

Die kerk is in 1957 ingewy en volgens Kellerman vermoed hulle die klok is reeds tussen 1955 en 1956 in die kerktoring ingebou.

“Die klok is êrens in Duitsland vervaardig, dus is dit moeilik om te sê presies hoe oud die klok is, want ons weet nie presies wanneer die klok hier aangekom het of wanneer dit vervaardig is nie; ook nie hoe lank dit voordat dit hier aangekom het, vervaardig is nie,” verduidelik Kellerman.

Hy het toe sy soektog begin na iemand wat die historiese klok kon herstel.

“Ek het ná ses maande se gesoek iemand in Houtbaai opgespoor. Die maatskappy se naam is Time Menders en dit lyk my hulle is een van die min plekke wat sulke soort horlosies kan herstel. Hulle is ook verantwoordelik vir die herstel van baie ander kerke se klokke in en om die Kaap.”

Darryn Clark van Time Menders het die probleem vroeg in Desember kom ondersoek en gesê hy kan dit herstel.

“Die kwotasie was ’n groot bedrag en het ook baie ander ambagsmanne ingesluit. Gelukkig was hier baie gemeentelede wat ook bekwame ambagsmanne is, en ek het Clark gevra of ons eerder van hul dienste en vaardighede gebruik kan maak. Hy het ingestem en Johan Kriel het die nuwe ratte gemaak, Dennis Swart het na die elektriese gedeelte van die herstelwerk omgesien, en Ben Strydom het met die ankerrat gehelp.

“Boetie Marais was die dryfkrag agter die herstel- en ander instandhoudingsprojekte.”

Die klok het verlede Woensdag, 25 Januarie, die eerste keer weer begin lui.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article