Ek weet almal is nog in die Hêppie New Year spirit en dis geensins my bedoeling om dié vreugdevolle gees te blus nie, maar ek gaan gou wees met dié een.

Soos baie ander mense verpes ek ook swak dienslewering.

Wanneer ek praat van goeie dienslewering, bedoel ek nie ’n blaasorkes moet my verwelkom of dat ’n rooi tapyt letterlik vir my uitgerol word nie.

Hierdie rubriek spruit bloot uit ’n paar weersinwekkende ervarings wat ek al by sakeondernemings beleef het.

Ek stap in by die een onderneming, groet die vrou beleefd en plaas my bestelling oor die toonbank.

Sy maak geen oogkontak nie, groet nie, stap sleepvoet tot by die rak, kry my bestelling, sit dit op die toonbank neer, kyk anderkant verby my terwyl sy haar hand oophou en wag vir die geld – alles sonder om ’n woord te rep.

Nie lank terug nie stap ek by ’n eetplek in. Die vrou belowe dat ’n kelner(in) my bestelling binnekort sal kom neem. Sy stop ’n spyskaart in my hand. Die plek is so te sê leeg.

Volgens die kelnerin het haar kollega my die verkeerde spyskaart gegee. Ek plaas my bestelling nadat sy (die kelnerin) my die regte spyskaart gegee het. Veertig minute later wag ek steeds vir my ete.

Niemand kom vra om verskoning of probeer verduidelik wat die oponthoud is nie. Ek soek na die kelnerin, maar sien haar nêrens nie.

Duidelik bewus van my ongelukkigheid staan en klets ’n paar kelnerinne eerder kliphard oor private sake. Steeds nog geen teken van my kos nie. Ek begin kriewelrig raak.

Vyf sekondes nadat ek moes opstaan om navraag te doen, kom die kelnerin daarmee aangetrippel en plak die bord voor my neer. Geen verskoning nie; geen verduideliking nie. Die kos was aangenaam, maar die diens swak.

Daardie plek sien my gewis nooit weer nie.

Net verlede week besoek ek nog ’n eetplek. Die kelnerin maak my senuweeagtig omdat sy lyk soos iemand op die oorlogspad.

Nog voordat ek my bestelling kon plaas, vra sy my met ’n houding wat my glad nie aanstaan nie: “Gaan djy alleen iet?”

Ek vererg my, staan op en stap uit. Dan is daar winkel-assistente wat wegkruipertjie met jou speel as dit net lyk of jy hulp soek.

Wat mense nie altyd besef nie, is dat jou houding teenoor kliënte of klante ’n onderneming kan maak of breek.

Ja, natuurlik is daar ongelooflik baie druk om iets te verkoop en in sommige gevalle word van hulle verwag om bloed uit ’n klip te tap; dalk het jy bloot ’n slegte dag . . . dis te verstane, maar moenie die kliënt jou slaansak maak nie.

En aan diegene wat altyd uit hul pad gaan, die ekstra myl vir die kliënt loop, deurentyd gehalte-diens lewer en altyd die kliënt eerste stel – ek salueer julle!

Mag julle van krag tot krag gaan in jul werk!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article