By die opening van Wilma Barry (middel voor) se splinternuwe restaurant by Kleinplasie, WB Outyds & Nuwerwets, is die familienavorser en vriendin Catherine Cleopasht (links) en die skrywer Petro Gordon.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

’n Nuwe restaurant het pas sy deure by Kleinplasie in Worcester geopen.

Dié nuwe eetplek beloof om nuwe lewe hier in te blaas.

WB Outyds & Nuwerwets is die geesteskind van die Worcesteriet Wilma Barry, wat van kleins af onder haar ma se vlerk pal in die kombuis gebak en gebrou het.

Later het sy begin om vryskut-spyseniering te doen. Wilma het egter eers haar loopbaan in ’n ander rigting gesien en ontwerp studeer, waarna sy in die klere- en skoenbedryf gewerk het, maar haar liefde vir kosmaak en om haar familie en vriende met heerlike kosse te bederf, het haar na die kospotte teruggeroep.

Wilma het toe by Houmoed-Chirpos as koördineerder begin werk en van 1996 af het sy ’n droompos by Feedam as spysenieringsbestuurder beklee.

Sy het ná die einde van haar kontrak verder by talle ander instansies as voedselbestuurder en -koördineerder gewerk.

Dit was egter nog altyd Wilma se droom om haar eie restaurant en familiegeskiedenis-museum te begin. Sy het haar familiegeskiedenis tussen haar werkstye deur intensief nagevors.

Ná vele planne en soeke na ’n geskikte plekkie hiervoor, het die deur by die Worcester-museum oopgegaan.

“Dis die perfekte plek,” se Wilma, “synde ek myself as lewende geskiedenis beskou. Nou kan ek ons familiegeskiedenis met ander deel – van die kos tot die stories van toeka tot nou.

“So, die gekook, inlê, bak en terte maak het ek by my ouma en by my ma geleer – hul gebraai, makataan, terte, breyani en botterbeskuitjies, wat familiegunstellinge was.

“Ook my tante Lalla se bredies, koeksisters, hertzoggies en allerhande soetkoekies, om nie van vars gebakte brood te vergeet nie.”

Wilma deel nou met haar eie kreatiewe invloed graag die oue en die nuwe met ander.

Hiermee wil sy ook die geleentheid skep vir ander om hul tuisnywerheid-produkte by die Worcester-museum-winkel te plaas.

Sy glo ook die voete wat die restaurant sal lok, gaan opnuut die geleentheid bied vir die gemeenskap om van heinde en ver “ons almal se eie museum” weer op Kleinplasie te kom besigtig en weer eens die lewende geskiedenis te herleef, “wat ons met nostalgie omvou”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article