Bejaardes het verlede Vrydag by Kleinplasie Museum byeengekom vir ’n spesiale geleentheid wat inligting en vermaak verskaf het. Foto: Enrico Claassen


’n Vrolike atmosfeer het Vrydag (4 Oktober) by Kleinplasie Museum in Worcester geheers toe sowat 60 bejaardes van ouetehuise in die Breedevallei byeengekom het om ’n reünie te hou en ’n bietjie te kuier.

Vir baie van die bejaardes was dit ook ’n eerste besoek aan Kleinplasie.

Bejaardes van Roodewal en Rivierview was ook teenwoordig.

Die saamtrek, wat ’n jaarlikse instelling gaan word, is die inisiatief van Christopher Cox, ’n oud-onderwyser van Worcester.

Cox sê aan Standard & Breederivier Gazette sy inspirasie vir so ’n saamtrek spruit onder meer uit beriggewing oor beweerde ongerymdhede by ’n plaaslike ouetehuis en die bejaardes se ongelukkigheid.

Hy sê tydens ’n onlangse besoek aan ’n ouetehuis in die Breedevallei het hy besef baie van die bejaardes verlang na hul kinders en kleinkinders.

Volgens Cox is reëlings onmiddellik getref dat kleuters van die Babbel en Krabbel-kleuterskool in Worcester verlede Vrydag ’n verrassingsbesoek aan die bejaardes kon bring. Die bejaardes se gesigte het behoorlik opgehelder toe die kindertjies by die saal ingestap kom. “Hulle het hul kleinkinders in dié kinders gesien.”

Volgens Cox was die saamtrek alles behalwe ’n pity party. Hy sê dit was ook om vir die bejaardes dankie te sê.

Ds. Jurie van Rooy het die openingsgebed behartig.

Afgevaardiges van die departemente maatskaplike ontwikkeling en gesondheid asook die polisie het Vrydag se geleentheid bygewoon en die bejaardes met kennis bemagtig.

Op ’n ligter noot het die raadslid Naomi Roelofse-Nel die bejaardes laat skater van die lag toe sy die toneelstuk Tietie Giegie het ’n storie vir hulle opgevoer het.

Barenice Wilskut en Cedric Andrews het die bejaardes vermaak met eertydse treffers, terwyl Ronnie Apollis die huis aan die brand gehad het met die liedjie “Kantienstraat”.

Verversings is na afloop van die geleentheid aan die bejaardes bedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article