Voor Covid-19 was dit maar net ’n inisiatief, maar as gevolg van verskeie gebeure het dit sy erns begin raak. Ds. Cyril Hendricks en sy wederhelfte het altyd Sondae gaan kos uitdeel aan die haweloses. Soms het sy ma saamgegaan en self haar deel bygedra in die vorm van ’n pot kos, maar nooit het hulle besef dat hierdie weldaad met tyd sal groei nie.

Hendricks se ma het egter tydens die Covid-19-pandemie gesterf. Om haar nalatenskap te vier, het hulle ’n organisasie sonder winsbejag gestig.

“Dis byeengeroep om meer struktuur te gee aan hierdie uitreiking en is geregistreer op 9 Desember 2021,” verduidelik hy.

Vandag staan dit bekend as Rachel’s Care Development, so genoem ter ere van Hendricks se ma.

Sondae kry die haweloses ’n gekookte maaltyd, Woensdae kry hulle sop en brood en dan ontvang hulle gereeld skoene en klere. Die organisasie het al baie vermag sedert sy ontstaan en dit kan alles toegeskryf word aan sy wil om in te gryp waar daar nood is.

Hulle het ook op Dinsdag 27 Desember ’n dankseggingsdiens gehou waar hulle die haweloses bedien, eer aan “Antie Rykie” betoon en vir God dankie gesê het.

Die organisasie beplan ’n Terug-skool-toe-projek waardeur hy 50 leerders op plase wil help. Dus vra hulle mense se hulp. Mense kan ook droë bestanddele vir sop skenk. Mense wat graag sal wil help, kan gerus vir Cyril Hendricks by 073 262 7357 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article