Die gemeenskap van Worcester spog met ’n formidabele naam in die bestuur van Boland-rugby.
Iven Klein, wat nie ’n vreemdeling in rugbykringe is nie, is as die krag- en kondisioneringsafrigter vir die Boland se o.20-span gekies.
Volgens Klein het atletiek – voordat hy ’n liefde vir rugby gevind het – ’n deurslaggewende rol gespeel om hom vir waar hy nou is voor te berei. Voor hy by rugby betrokke was, was dié Worcesteriet ’n meesterskampioen in 100 m en 200 m.
“Nadat ek in 2002 as die meesterskampioen by die Olimpiese Spele gekroon is, het ek my spykerskoene opgehang en ander avonture aangepak omdat ek my doelwit bereik het en nie meer ’n behoefte gehad het om verder mee te ding nie,” vertel Klein.
Na dié atletiekprestasie het Klein hom nie net as ’n naelloop-afrigter gekwalifiseer nie, maar ook saam met Saru se junior en senior spanne rugby gespeel.
“Omdat ek klein en vinnig is, het ek vleuel gespeel. Jy weet, soos Cheslin Kolbe,” sê hy en lag.
Hy was nie lank op die veld nie, voordat hy sy fokus na krag en kondisionering geskuif het.
“Ek het sportadministrasie aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestudeer en my kwalifikasie in 2007 ontvang.”
Sedertdien is hy elke jaar deel van die Boland-afrigtingspan as die een wat in beheer is van kondisionering.
“Ek is mal daaroor om met jongmense te werk, want hulle is vir my ’n uitdaging.”
Vir Klein is harde werk en vasberadenheid die twee sleutels tot sukses. “Ek skryf my sukses toe aan die prestasie van die atlete waarmee ek werk. Daar is baie krag- en kondisioneringsafrigters wat Boland kon gekies het, maar my atlete se prestasies was deurslaggewend. Die vrugte van die werk wat ek in my atlete ingesit het, pluk ek beslis.”
Hy noem dat ook dat hy tans by Villagers Worcester betrokke is. “En dit gaan goed met hulle,” voeg hy by.
Die Boland-span het een wedstryd teen SWD verloor, maar die span wil hul vertoning verbeter wanneer hulle Grens die naweek die stryd gaan aansê. Oor planne vir die toekoms sê Klein: “Ek wil net met die jonges werk.”


