Leerders van Bo-Doringrivier buite Worcester was baie opgewonde oor die skenking van nuwe hemde wat deur bejaardes uit ou herwinde linne van die plaaslike Golden Valley Casino gemaak is.


Die Klein Begin Dienssentrum vir Bejaardes in Worcester is baie trots op die vele projekte wat hulle die afgelope jaar vermag het en hoop dat hulle vanjaar nog meer kan doen om ook ander organisasies en instellings by te staan.

Hierdie dienssentrum, wat bestuur en gekoördineer word deur Beaulah Vlok, is daarop toegespits om inwoners te bemagtig met vaardighede en hulle met verskeie projekte aan te wakker.

In November verlede jaar het die Golden Valley Casino hierdie dienssentrum in Riverview gekontak om hulle by te staan met ’n projek om skoolhemde uit ou gebruikte linne te vervaardig.

“Hulle het gevra of ons hulle sal kan help en ons het dadelik ingestem. Dit was besonders om ons inwoners te kon sien saamwerk om iets goeds te doen vir die jeug. Die casino het vir ons die ou linne verskaf en die wonderlike Elaine Mentza het vir ons die lap gesny en gesorg dat die groottes perfek is,” vertel Vlok aan Standard.

Die bejaardes het in November die lappe begin verwerk tot hemde en gespook en gespartel om dit betyds klaar te maak sodat die leerders hul nuwe skoolklere betyds kon kry voordat ouers onnodige aankope sou aangaan vir klere.

“Ons het teen 7 Desember alles oorhandig en het toe 67 hemde gelewer. Ons is baie trots hierop en almal het ingespring om te help. Dit was ’n hele proses. Een het gesny, die ander het gestik, die ander het gesorg dat al die los garing gesny word. Almal het ingekoop in die idee en hard gewerk om dit klaar te maak.”

Die Golden Valley Casino het toe die hemde by die bejaardes gaan oplaai en hul elkeen bedank vir hul harde werk, waarna 67 leerders van die Bo-Doringrivier-skool buite Worcester met netjiese skooldrag uit herwinde linne gehelp is.

“Ons wil graag aanhou om sulke projekte te doen. Dit hou ons mense besig en inspireer hulle ook. Ons het baie idees vir die jaar vorentoe en nooi organisasies om hande te vat en saam met ons projekte aan te pak,” voeg Vlok by.

Sy sê ook dat haar groot doelwit is om vanjaar vir die bejaardes sweetpakke te laat maak of aan te skaf voor die winter begin, aangesien daar ’n groot behoefte daarvoor is, maar finansies dit net nie toelaat nie.

Enigeen wat met Vlok wil kontak maak, kan haar by 072 263 5200 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article