Iemand word as DoofBlind geklassifiseer wanneer dubbele sensoriese verlies – gehoor sowel as sig – in een liggaam voorkom.
Sommige mense sal hulself as doof met sigverlies beskou, of ’n blinde wat ook ’n mate van gehoorverlies ervaar – hierdie groeperings is inderdaad dan albei DoofBlind.
Iemand kan doof en blind gebore word, of kan later in hul lewe beide sensoriese verliese weens meer as omtrent honderd moontlike oorsake ontwikkel.
Ons ervaar daagliks al die uitdagings wat blinde en dowe mense ondervind.
Vir DoofBlinde kinders is die uitdagings tydens hul skoolopleiding soveel groter omdat in spesiale skole vir dowes en vir siggestremde leerders spesifiek voorsiening gemaak word vir hul unieke behoeftes. Vir DoofBlinde leerders is die uitdagings vir hulself asook hul onderwysers soveel groter afhangende van elke doofBlinde leerder se unieke en spesiale behoeftes. Slegs enkele spesiale skole maak voorsiening vir DoofBlinde leerders.
Indien die leerder doof is met ’n mate van sigverlies, sal hy of sy na ’n skool vir dowe leerders verwys word, en vir ’n blinde of swaksiende leerder met ’n mate van gehoorverlies wat met behulp van gehoorapparate en/of kogleêre implantate oor die weg kan kom, sal ’n skool vir siggestremdes die beste opsie wees.
Maar wat van DoofBlinde leerders wat heeltemal blind en doof is?
Pionierskool en ander instansies in Worcester vervul ’n enorme rol om DoofBlinde leerders met die bystand van klaskamer-assistente en nodige tegnologie te akkommodeer. Hierdie assistente moet Braille sowel as taktiele Gebaretaal magtig wees om die volledig DoofBlinde leerder tydens klasse te kan bystaan om die lesse vir die leerder in sy/haar hand deur middel van volle Gebaretaal of vingerspelling te tolk.
Vanselfsprekend sal ’n noue band tussen so ’n leerder en die assistent ontwikkel.
’n Volledig DoofBlinde leerder by Pionierskool het gedurende 2021 bystand ontvang van ’n bekwame assistent, wat die leerder en enkele onderwysers vingerspelling geleer het. Die leerder is daagliks deur hierdie klaskamer-assistent ondersteun om al die gewone klasse in ’n standaard kurrikulum by te woon. Die leerder het gr. 7 geslaag en is tans besig met haar gr. 8-opleiding.
Die klaskamer-assistent moes in September ongelukkig haar werk weens eie studie-verpligtinge bedank. Hierdie terugslag so kort voor die derdekwartaaleksamen was baie traumaties vir die ywerige leerder!
Pionierskool moes inderhaas planne maak om ’n plaasvervanger met genoemde uiters skaars vaardighede te bekom, en die situasie is beredder.
Pionierskool het egter steeds ’n dringende behoefte om meer sodanige klaskamer-assistente met die nodige vaardighede te kry ten einde hierdie noodsaaklike ondersteuningsprogram vir ons DoofBlinde leerders voort te sit.
Daarom doen ons ’n vriendelike beroep op enigiemand met die nodige Gebaretaal- en Braille-kennis om na vore te kom om ons DoofBlinde gemeenskap in hierdie delikate en waardevolle belang van opvoeding en opleiding te ondersteun.
Sodanige spesiale ondersteuning en tegnologie is ook baie koste-intensief vir enige spesiale skool.




