’n Tiener van McGregor het sowat 15 jaar gelede die eerste keer ’n klarinet gesien – en was verslaaf.
Vandag, ná ’n merkwaardige musikale reis, baie harde werk en deursettingsvermoë, is Féroll-Jon Davids die hoofklarinetspeler in die bekende Kaapstadse Filharmoniese Orkes.
Nadat hy matriek aan die Hoërskool Robertson voltooi het, het Davids die Universiteit Stellenbosch bygewoon en ’n B Mus- en later ’n M Mus-graad in klarinetuitvoering verwerf. Hy het sy musikale vaardighede deur ’n uitruilprogram in Georgia en Montana in die VSA geslyp.
Davids het al as solis saam met simfonie-orkeste oor Suid-Afrika heen opgetree. Hy is passievol oor musiekopvoeding en is aktief betrokke by Jamestown Sounds, ’n gemeenskapsprojek in die Kaapse metropool. Hy doseer in klarinet aan die Universiteit Stellenbosch.
Die gewilde 55-stuk- Kaapstad Filharmoniese Orkes bied Sondag 8 Oktober die eerste keer ’n konsert in die ruim Oos-Kerk in Robertson aan. ’n Groot aantrekking is sekerlik Davids se uitvoering van Mozart se “Klarinetkonsert”.
Die geleentheid word aangebied deur Eseltjiesrus Donkey Sanctuary naby McGregor en die opbrengs gaan vir donkiewelsyn.
Borg ’n paar kaartjies
’n Geborgdekaartjie-skema sal jongmense uit armer huise en inwoners van aftree-oorde in staat stel om hierdie besonderse musiekgeleentheid by te woon. Die borgskapprojek sal ook plaaslike kore, musiekstudente en tehuise vir jeugdiges insluit.
Kaartjies kos R150 vir volwassenes en R75 vir studente. Enige bydrae tot geborgde kaartjies sal hartlik waardeer word.
Ondersteuning vir hierdie unieke geleentheid sal ’n tweeledige voordeel oplewer – die genot van sprankelende musiek deur mense wat dit nie anders kan meemaak nie, en ’n baie gewaardeerde inkomste vir donkiewelsyn.
Die Sanctuary-leuse is “A Culture of Caring” en die konsert sal plaasvind onder die vaandel “Music for Everyone /Musiek vir almal.”
Kaartjies kan by die toerismekantore in Montagu, McGregor en Robertson en by die Durbanstraat-dierekliniek in Worcester gekoop word. Aanlynkaartjies kan maklik per e-pos by adopt@ donkeysanctuary.co.za gekoop word.





