Maxwell Kekana wys na die Smalblaar-rivier waarlangs die gemeenskap na en van die Rawsonville-sportterrein moet stap.Foto: Enrico Claassen


Klagtes van openbare onsedelikheid deur die publiek na afloop van sport-byeenkomste was die hoofrede hoekom die ingang na die Rawsonville-sportterrein via Sutherlandstraat jare gelede gesluit is.

So sê Chad Malgas, ’n woordvoerder van Breedevallei-munisipaliteit (BVM), aan Standard.

Hierdie kommentaar deur die BVM volg ná klagtes deur die voorsitter van die Rawsonville United Rugbyklub, Maxwell Kekana, namens die Rawsonville-gemeenskap dat die grondpad wat na die Rawsonville-sportterrein lei reg langs die Smalblaar-rivier in Rawsonville geleë is en dat dié rivier ’n gevaar inhou vir toeskouers wat van die grondpad gebruik maak.

Volgens Kekana het spelers en toeskouers vir jare gebruik gemaak van Sutherlandstraat wat hulle direkte toegang tot die sportterrein gebied het.

Malgas sê die betrokke ingang is sowat 15 jaar gelede gesluit ná klagtes van beweerde lawaaimakery deur toeskouers wat van dié pad gebruik gemaak het.

Met Standard se besoek aan Sutherlandstraat was die ingang met beton toegebou. Voor die betonmuur is ook ’n groot tuin aangelê.

Kekana sê die huidige roete langs die rivier is baie gevaarlik, veral omdat daar geen beligting is nie.

Volgens hom moet spelers en toeskouers, as gevolg van swak of geen beligting, na afloop van oefensessies en of wedstryde in die donkerte terugstap huis toe.

Hy sê toeskouers kan – indien geweld sou uitbreek – mekaar met die rivierklippe takel.

Volgens hom loop motoriste wat van die betrokke roete gebruik maak ook die gevaar om met hul motors in die rivier te beland as gevolg van ’n tekort aan beligting op die roete.

Kekana sê om veiligheidsredes versoek inwoners dat die ingang na die sportterrein via Sutherlandstraat weer oopgestel word.

Malgas sê as deel van die medium- tot langtermyn-opgraderingsplan vir die fasiliteit oorweeg die BVM alternatiewe toegang tot die sportterrein vanuit die rigting van die Stalle.

Hy sê intussen word die huidige toegangspunt as veilig en geskik beskou vir gebruik onder die huidige omstandighede. Volgens hom is geen voorvalle tot nou toe aangemeld waarvan die munisipaliteit moet kennis neem nie.

Malgas sê voorts die kwessie van skadebeheer (om die moontlike uitbreek van geweld te voorkom) bly egter die verantwoordelikheid van die organiserende party of instansie.

Hy sê ook ’n bykomende ingang gaan byvoorbeeld nie ’n persoon verhoed om skade aan te rig met rivierklippe indien dit daardie persoon se bedoeling uit die staanspoor is nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article