’n Vyftigjarige man van Robertson is verlede Vrydag (21 Februarie) in die Worcester-streekhof lewenslank tronk toe gestuur nadat hy ’n tienjarige meisie verkrag het. Die voorval het op 25 November 2017 plaasgevind.
Die veroordeelde kinderverkragter was goed bekend aan die meisie se ouers.
Op die dag van die voorval het die meisie se ma alkohol by die verdagte se huis gedrink. Die meisie se pa het haar in ’n stadium by haar ma afgelaai en weer vertrek.
Die kind se ma het die verkragter se vrou gevra om na haar dogter en dié se jonger broer om te sien terwyl sy na haar man gaan soek.
Toe almal gaan slaap, het die meisie, haar broer en die verkragter se seun by die voetenent van die bed geslaap terwyl die verkragter en sy vrou aan die boonste kant van die bed geslaap het.
Toe die meisie geslaap het, het sy gevoel iemand trek haar broekie af. Sy het die verkragter gevra waarmee hy besig was en gesê sy gaan haar pa vertel.
Die verkragter het haar gevra om stil te bly. Die meisie het tevergeefs gegil en gehuil toe sy verkrag is.
Die verkragter se vrou het die meisie die volgende dag op die rusbank aangetref waar sy en haar broer vir haar gewag het om hulle terug huis toe te neem.
Toe die kinders by die huis aankom, het die meisie haar pa in die teenwoordigheid van die verkragter se vrou gevra om die polisie te kontak omdat sy verkrag is.
Die verkragtere is eers twee dae ná die voorval in hegtenis geneem.
Die staatsaanklaer, Elton Willemse, het aan die hof gesê daar bestaan geen wesenlike en dwingende omstandighede om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslank nie onder meer omdat die verkragter geen berou getoon het nie, weens die aard en omvang van die meisie se beserings asook die jong ouderdom van die kind wat erg getraumatiseer gelaat is.
Volgens Willemse het die feit dat die beskuldigde se vrou op dieselfde bed gelê en slaap het toe die voorval plaasgevind het hom nie afgeskrik nie. Hy het voorts aan die hof gesê dat die howe die kwesbares in die gemeenskap, waarvan die klaagster as ’n kind deel gevorm het, moet beskerm, veral omdat verkragting as ’n pandemie in die land beskou word.
Bongiwe Mbulawa, die betrokke streeklanddros, het die jong vrou in sy vonnisoplegging geprys omdat sy besef het dat dít wat die beskuldigde aan haar gedoen het, verkeerd was. Mbulawa het ook die klaagster se ouers geprys omdat hulle, ten spyte van hul vriendskap met die skuldige, die regte ding gedoen het. . Die verkragter se naam word weerhou om die slagoffer te beskerm.



