Altesaam 37 kleuterskole het die ACVV se praatjie en poppekasvertoning oor kinderbeskerming bygewoon. Foto: Tamsyn Jantjies


Kinderbeskermingsweek is dié week van stapel gestuur, met verskeie organisasies en instansies wat plaaslik deelgeneem het om geweld teen kinders, asook die welsyn van kinders, onder die loep te neem.

Aan die plaaslike front het onder meer die ACVV saam met die Grapevine ECD-forum Dinsdagoggend altesaam 37 kleuterskole uitgenooi vir praatjies oor kinderveiligheid.

Die ACVV het ook ’n poppekasvertoning gehou, waarin hy die kinders geleer het hoe om veilig te bly.

Lede van die brandweer asook die Thuthuzela-sorgsentrum het die kinders toegespreek.

Leerders van die Nuwehoop-sentrum vir gehoorgestremdes het Maandagoggend hul ondersteuning vir Kinderbeskermingsweek getoon. Leerders van graad 4 tot jaar 4 het plakkate gemaak en dit aan weerskante van Leipoldtlaan vertoon.

Die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, het die amptelike bekendstelling van Kinderbeskermingsweek verwelkom. Dit strek van verlede Sondag (29 Mei) tot hierdie Sondag (5 Junie).

Sy het gesê die departement hernu sy verbintenis om kinders 365 dae van die jaar te beskerm.

“Ons moet bewus bly van die kritieke rol wat ons almal moet vervul om die lewe van ons kinders te verryk.”

Volgens Fernandez moet meer gedoen en meer strategies opgetree word om kinders veilig en “uit die pad te hou”.

Verskeie kinderbeskermingsdienste is by die departement, nieregeringsorganisasies en die private sektor beskikbaar om kinders te help (sien kassie hiernaas).

Fernandez het gesê die departement is dankbaar vir al die nieregeringsorganisasies, maatskaplike werkers, maatskaplike hulpwerkers en kinder- en jeugsorgwerkers wat aanhou help met die departement se voortgesette pogings om ’n veiliger provinsie vir kinders te skep.

Sy het ook belanghebbendes in munisipaliteite en die provinsiale en nasionale regering, die burgerlike samelewing, sakesektor, nooddienste, universiteite, die polisie en strafregstelsel en gemeenskappe uitgelig.

“Ons moet ’n groepsbenadering volg om ons land se pogings teen kindermishandeling te versterk. Saam moet ons namens ons kinders praat en ons kinders beskerm.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article